AfriForum verwelkom Eskom se besnoeiingsplanne


Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag Eskom se beplande personeelbesnoeiing verwelkom as ’n noodsaaklike stap in die regte rigting om dié kragreus se probleme op te los.

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsdienste by AfriForum, sê die personeelvermindering is van kardinale belang, hoewel dit nie al Eskom se probleme gaan oplos nie. “Eskom se salarisrekening en personeelgetalle is onbekostigbaar in die konteks van die veelbesproke planne om die onderneming om te keer en weer toegang tot finansiering te kry. Daar is egter nog baie probleme wat getakel moet word, soos korrupsie en die invordering van skuld by munisipaliteite, maar verbruikers kan nie aanhou om oortollige werkers te subsidieer nie.”

Eskom se personeel het met rofweg 50% van 32 600 tot 47 600 oor die afgelope dekade toegeneem. ʼn Wêreldbank-verslag het in 2016 getoon dat Eskom sy werkers heeltemal te veel betaal vergeleke met ander kragverskaffers in Afrika en dat sowat 66% van sy werkers boonop oortollig is.

Volgens Brink sal Afriforum die situasie fyn dophou om te sien of hierdie personeelvermindering wel in werking gestel word en ook hóé dit gedoen word. “Daar is nie juis spesifieke aanduidings gegee oor hoe dit gedoen gaan word nie en die ANC-regering sal natuurlik nie so kort voor ’n verkiesing hul vakbondvriende té veel met massa-afleggings wil ontstel nie. Hopelik is dit nie net nóg ’n paaimiddel om die kredietgraderingsagentskappe en leners gerus te stel sonder om werklike veranderinge te maak nie.
“Daar sal beslis ook na die topbestuurstruktuur en hul vergoeding gekyk moet word, terwyl waardevolle ingenieurs en tegnici nie sondermeer afgedank moet word nie. Eskom moet darem steeds kan werk, en meriete en vaardighede moet die enigste maatstawwe in hierdie besnoeiingsproses wees,” meen Brink.

 

Soortgelyke plasings