AfriForum verwelkom herroeping van dokument oor opwekking van privaat krag


Die burgerregte-organisasie AfriForum verwelkom die amptelik herroeping van die konsultasiedokument oor die konsepreëls vir die registrasie van kleinskaalse kragopwekking deur die Nasionale Energiereguleerder (Nersa).
Die herroeping is voorafgegaan deur die inwin van openbare kommentaar oor die staat se mandaat om die vermoë van gemeenskappe en persone om self krag op te wek, te laat registreer en reguleer.
Morné Mostert, hoof van plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê gemeenskappe het dié gebrekkige konsultasiedokument klaarblyklik verwerp.

“Dit is egter nie die einde nie. Die minister van energie het ’n konsepwysiging vir publieke kommentaar in die Staatskoerant gepubliseer en Nersa gaan nou nuwe konsepreëls ontwikkel wat met hierdie wysiging strook. Sodra ons weet wat die nuwe konsepreëls behels, sal AfriForum daarop reageer.”

Dr. Eugene Brink, AfriForum se strategiese raadgewer vir gemeenskapsake, sê die staat moet eerder mense se privaat kragopwekkingsvermoë uitlos.

“Betalende inwoners ly toenemend onder kragonderbrekings weens munisipale korrupsie, asook wanbetaling en -bestuur van kraggeld. Die staat moet dít nie vererger deur mense se privaat opwekkingsvermoë te probeer beheer en bemoeilik nie.”

Soortgelyke plasings