AfriForum verwelkom hofuitspraak teen onttrekking aan internasionale strafhof


AfriForum verwelkom die uitspraak van die Noord-Gautengse hoë hof dat die regering se besluit om aan die internasionale strafhof te onttrek, ongeldig is en teruggetrek moet word.  Die saak is deur die Demokratiese Alliansie (DA) teen die regering aanhangig gemaak nadat die regering in 2016 met die onttrekkingsproses begin het.
Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum gemoeid met internasionale betrekkinge, meen dat onttrekking aan die strafhof niks goeds vir die toekoms van menseregte in Suid-Afrika, of op die kontinent, voorspel nie.

“’n Internasionale platform waar menseregteskenders en oorlogsmisdadigers verantwoordbaar gehou kan word, sal met die beëindiging van deelname aan hierdie hof verlore gaan.  As daar kommer oor die aanslag van die hof is, is die oplossing om as deelnemende land insette in die verband te gee, nie om te onttrek nie.”

AfriForum wens die DA geluk met die oorwinning. Bailey meen dat dit noodsaaklik was dat die regering se optrede in die hof getoets moes word. Hierdie uitspraak bewys die kommer daaroor nou gelyk.
‘n Openbare raadplegingsproses oor die implementering van wetgewing om Suid-Afrika se deelname aan die strafhof te beëindig, is onlangs bekendgemaak. Of die onttrekkingsproses voortgaan al dan nie, sal eers duidelik word nadat vandag se uitspraak bestudeer is. AfriForum moedig alle belanghebbende instellings aan om dop te hou of die proses sal voortgaan en indien wel, om sterk standpunt teen onttrekking in te neem.

Soortgelyke plasings