AfriForum verwelkom Hoogste Hof van Appèl se uitspraak oor Zim-boere

Die burgerregteorganisasie AfriForum verwelkom die uitspraak wat vandag in die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein gelewer is waarin ’n groep Zimbabwiese boere suksesvol geappelleer het teen ’n vroeëre bevinding van die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria in die epiese regstryd van Zimbabwiese boere teen die Suid-Afrikaanse regering.

Regter Frits van Oosten het in Desember 2020 in die Noord-Gautengse Hooggeregshof bevind dat ’n eksepsie wat deur die Suid-Afrikaanse regering geopper is geldig is, naamlik dat daar geen kousale verband bestaan tussen die skade wat die Zimbabwiese boere gely weens Suid-Afrika se deelname in die opheffing van die SAOG-tribunaal se werksaamhede en die werklike skade wat die boere gely het nie.

Die hooggeregshof het destyds die eksepsie gehandhaaf en die gevolg daarvan sou wees dat dit vir die boere bitter moeilik sou wees om hul eis van miljoene rande teen die Suid-Afrikaanse regering voort te sit. Die uitspraak wat egter vandag deur die Hoogste Hof van Appèl gegee is het die vroeëre uitspraak van die Noord-Gautengse Hooggeregshof, wat die eksepsie oor kousaliteit gehandhaaf het, tersyde gestel.

Die regsverteenwoordiger van die Zimbabwiese boere, Willie Spies, wat ook as regsverteenwoordiger van AfriForum optree, het in ’n verklaring gesê dat sy kliënte verheug is oor die uitkoms van die appèlhof se verrigtinge. Hy het die bevinding van die appèlhof as histories beskou aangesien dit waarskynlik die eerste keer in die geskiedenis is dat die appèlhof ’n kopknik gee vir die instel van ’n dagvaarding teen die Suid-Afrikaanse regering vir misstappe wat buite die landsgrense gepleeg is. In die verband die vergadering van die SAOG leiers by Victoriavalle in Zimbabwe.

Spies het aangedui dat die volgende stap in die proses nou sal wees dat die Suid-Afrikaanse regering ’n verweerskrif moet aflewer op die dagvaardings wat uitgereik is en daarna sal die proses sy normale gang gaan om uiteindelik ’n verhoor in die Noord-Gautengse Hooggeregshof te laat plaasvind waartydens die boere se eis deur die hooggeregshof oorweeg sal word. Die skadevergoedingseis beloop sowat R2 miljard.

Die Zimbabwiese grondhervormingsplan het in die jaar 2000 begin en sedert die aanvang van die proses van onteiening sonder vergoeding in Zimbabwe het die Zimbabwiese ekonomie in duie gestort en nog nooit weer herstel nie. Verskeie wit voormalige boere wat van hul plase afgesit is, is in armoede gedompel en werkloosheid en hongersnood in Zimbabwe het die hoogte in geskiet. “Dit is van uiterse belang dat Suid-Afrika lesse moet leer uit die ervaring van Zimbabwe en dat die howe ’n duidelike standpunt moet inneem teen die medepligtigheid van die Suid-Afrikaanse regering onder leiding van oudpres. Jacob Zuma in 2014 wat daartoe gelei het dat SAOG-burgers ontneem is van die reg om hulle menseregte in ’n internasionale hof te bereg. 

“Die uitspraak is dus ’n belangrike mylpaal in hierdie epiese stryd en die stryd sal voortgaan totdat geregtigheid ook vir die boere van Zimbabwe geskied het,” sê Spies.

Soortgelyke plasings