AfriForum verwelkom premiers se prioritisering van plaasaanvalle 


Die burgerregteorganisasie AfriForum verwelkom Job Mokgoro, premier van Noordwes, en David Makhura, premier van Gauteng, se erkenning van plaasaanvalle en ‑moorde as prioriteitsmisdade.

Makhura het tydens sy provinsiale openingsrede erkenning gegee aan die erns van plaasaanvalle en -moorde en dit as prioriteitsmisdade gelys. Volgens Makhura sal ’n spesialis-eenheid getaak word met die bekamping van plaasaanvalle en -moorde. Mokgoro het ook aangedui dat hy meer gereeld met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en wetstoepassingsowerhede sal skakel om boere en inwoners van die platteland se veiligheid te verseker.
Gauteng is met 69 aanvalle vanjaar die provinsie met die hoogste getal plaasaanvalle in die land, terwyl Noordwes met 32 aanvalle ook luidens AfriForum se statistiek swaar geraak word. Albei provinsies het vanjaar vier plaasmoorde aangeteken.
Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, het al vroeër vanjaar ná die moord op Stefan Smit beloof om stappe te doen om boere te beskerm. Dit sluit in die stigting van spesialis­eenhede in landelike gebiede, druk op die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) om te verseker dat hulle plaasmoorde as prioriteitsmisdade verklaar en die teenstaan van borgtog vir beskuldigdes van plaasaanvalle.

“Dit blyk of die volgehoue druk en bewusmaking deur organisasies soos AfriForum met betrekking tot plaasaanvalle ten einde laas vrugte afwerp, en dat die owerhede stelselmatig tot die besef kom dat plaasaanvalle nie net as ’n gewone misdaad beskou kan word nie,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek.
“Dit is prysenswaardig dat die premiers en provinsiale ministers plaasmoorde as ’n prioriteitsmisdaad beskou terwyl president Cyril Ramaphosa steeds daaroor swyg en selfs op internasionale platforms ontken dat plaasmoorde ’n ernstige krisis in Suid-Afrika is,” sê Joseph Renaud, AfriForum se veiligheidshoof vir die sentraalstreek.

Renaud beklemtoon die noodsaaklike rol wat burgerlike instellings soos AfriForum moet speel om veiligheidstrukture vir boere en gemeenskappe te vestig om hul eie veiligheid te verseker en weerbaarheid binne die raamwerk van die wet te bevorder.

Soortgelyke plasings