|

AfriForum verwelkom provinsiale ingryping by Mamusa Plaaslike Munisipaliteit

Die burgerregteorganisasie AfriForum verwelkom Job Mokgoro, premier van Noordwes, se aankondiging om die Mamusa Plaaslike Munisipaliteit se raad te ontbind nadat dié munisipaliteit reeds in Mei onder administrasie geplaas is en die situasie daar steeds nie verbeter het nie.

“Die AfriForum-tak in Schweizer-Reneke is besig om verskeie diensleweringskwessies met die munisipaliteit op te neem. Ons wil ook dringende sake, soos die gebrek aan watervoorsiening aan die dorp, dadelik met die administrateur bespreek. Ons het ’n reeks voorstelle om probleme op te los wat ons saam met die administrateur wil aanpak,” sê Gerhard Nieuwoudt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.

Talle probleme by die munisipaliteit wek kommer. Die publiek kan nie die munisipaliteit bel nie aangesien daar al vir jare geen landlyntelefoon is nie, terwyl die munisipaliteit geen poging aanwend om met die belastingbetalers te kommunikeer nie. Rekeninge is glad nie op datum nie – die nuutste rekeninge is 31 Julie 2019 gedateer – en bestuurders is dikwels sonder verskoning nie op kantoor nie. Die belastingbetalers betaal vir dienste wat die munisipaliteit nie tans lewer nie.

Morné Mostert, bestuurder van plaaslikeregeringsake by AfriForum, sê dit is tyd dat die provinsiale regering hul verpligtinge nakom. “Die raad is die eerste liggaam wat verantwoordelik is vir die aanspreeklikheid van die munisipale administrasie. Indien die munisipaliteit steeds nie sy grondwetlike verpligting nakom nie, moet die provinsiale regering toetree en die situasie beredder.”

Mostert voer aan dat die provinsiale departement dringend ’n administrateur moet aanstel wat die ernstigste kwessies dadelik kan oplos. “AfriForum se Schweizer-Reneke-tak pak alreeds ’n paar diensleweringskwessies aan, maar hierdie bied ’n geleentheid vir samewerking met die provinsiale departement.”

Soortgelyke plasings