AfriForum verwelkom voorlopige herroeping van regeringsplanne om aan internasionale strafhof te onttrek


AfriForum het die kennisgewing van die Suid-Afrikaanse regering dat die proses om aan die internasionale strafhof te onttrek, voorlopig gestaak word, verwelkom. Dié stap volg nadat die Noord-Gautengse hoë hof ’n uitspraak op 22 Februarie 2017 gemaak het wat bepaal dat die regering se besluit om aan dié hof te onttrek, ongeldig is en teruggetrek moet word.
Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum gemoeid met internasionale betrekkinge, het die hoop uitgespreek dat die onttrekkingsproses uiteindelik permanent stopgesit sal word.
Bailey meen dat lidmaatskap van en deelname aan die aktiwiteite van die strafhof ’n positiewe rol in die bevordering van menseregte, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook op die kontinent en internasionale terrein, speel.

“Die strafhof mag sy gebreke hê, maar bied ’n internasionale platform waar menseregteskenders en oorlogsmisdadigers verantwoordbaar gehou kan word. Suid-Afrika kan ’n sleutelrol in die uitbou van dié instelling speel.”

As een van die motiverings vir onttrekking het die regering aangevoer dat Suid-Afrika ’n belangrike rol op die terrein van vredeshandhawing in Afrika speel en dat pligte wat deur die internasionale strafhof opgelê word, soos om leiers soos Omar al-Basjir, die Soedannese president, in hegtenis te neem, met dié rol inmeng.
Bailey meen egter dat die afskrikkingswaarde van die strafhof van groter belang is om voornemende menseregteskenders en oorlogsmisdadiger van hul planne te laat afsien.  Deelname aan en versterking van die internasionale strafhof kan juis hierdie oogmerk en die beginsel van die oppergesag van die reg uitbou.
AfriForum hoop daarom dat die regering alle pogings om te onttrek, sal staak soos wat Gambia byvoorbeeld reeds gedoen het.

“So ’n stap kan ook bydra daartoe dat die internasionale beeld van Suid-Afrika wat die laaste tyd heelwat reputasieskade op die terrein van menseregte opgedoen het, dalk tot ’n mate herstel kan word,” voeg Bailey by.

Soortgelyke plasings