AfriForum verwelkom voorstelle in konseptaalbeleid vir hoëronderwys


Die burgerregte-organisasie AfriForum verwelkom in hul kommentaar op die konseptaalbeleid vir hoëronderwys die meerderheid van die voorstelle in dié dokument. Hierdie konsepbeleid is in die Staatskoerant van 23 Februarie 2018 gepubliseer en openbare kommentaar daarop is tot 13 April 2018 toegelaat.
Hierdie dokument is veronderstel om uiteindelik as riglyn vir die formulering van die taalbeleide van alle openbare hoëronderwysinstellings te dien.
Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, is dit verblydend dat die konsepbeleid onder meer: erkenning daaraan gee dat Afrikaans ’n inheemse Suid-Afrikaanse taal is; taalprestasie en goeie verhoudinge binne onderwysinstellings bevorder; en bepaal dat ’n benadering wat nie net Engels bevoordeel nie noodsaaklik is – tot voordeel van sowat 90% van die land se inwoners wie se moedertaal nie Engels is nie.
In die kommentaar wat ingedien is, beklemtoon AfriForum onder meer dat navorsing bewys dat studente se akademiese vordering, onderlinge verdraagsaamheid en lojaliteit jeens leerinstellings én die land bevorder word wanneer hul moedertaal op ’n kampus gebruik, gekoester en uitgebou word. Waar leerders se taal egter nie as onderrigmedium gebruik word nie, lei dit tot vervreemding van en disassosiasie met instellings en ander studente.

“AfriForum beveel aan dat meertaligheid bevorder word deur die subsidiëring daarvan op kampusse en deur dosente wat meertalig kan klasgee, te beloon,” sê Bailey.

AfriForum wag tans op ’n uitspraak in die saak teen die Unisa-bestuur wat in 2016 op ’n eentalige Engelse taalbeleid vir dié instelling besluit het. Bailey meen dat, indien die regter van hierdie rigtinggewende konseptaalbeleid kennis neem, die uitspraak onmoontlik ’n eentalige Engelse taalbeleid sal kan bevoordeel.
Sy het die hoop uitgespreek dat die konseptaalbeleid sonder te veel ingrypende wysigings aanvaar sal word en dat die nodige politieke wil en befondsing beskikbaar gestel sal word om dit tot uitvoering te bring.

Soortgelyke plasings