AfriForum verwerp uitgebreide Covid-19-toelaes

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag sy skriftelike kommentaar ter verwerping van die voorgestelde wysigings aan regulasies, wat Covid-19 toelaes vermeerder, ingedien. Hierdie wysigings stel eerstens voor dat die inkomstedrempel om vir die maandelikse R350 Covid-19 toelaag te kwalifiseer, vanaf R350 tot R624 verhoog word. Dit lei daartoe dat veel meer mense vir die toelaes sal kwalifiseer. Tweedens, gee die regulasies die ministers van gesondheid en finansies die bevoegdheid om van tyd tot tyd die inkomstedrempel verder te wysig.

In die kommentaar beklemtoon AfriForum dat die organisasie innige simpatie het vir die miljoene mense in die land wat in armoede leef. AfriForum benadruk egter dat die armoede deur regeringsmislukkings veroorsaak word wat tot ’n 46,2% werkloosheidskoers en die betaling van toelaes aan 46% van die bevolking gelei het. Hierdie toelaes word gefinansier deur ’n uiters dun belastingbasis waarvan net meer as 5% van belastingbetalers 91,8% van belasting betaal.

“Die uitbreiding van Covid-19-toelaes is nie ’n oplossing vir armoede nie, omdat burgers wat vir die toelaes kwalifiseer hulself steeds vêr onder die boonste armoedelyn van R1 335 per maand bevind. Verder maak die betaling van hierdie toelaes die bevolking nóg meer afhanklik van die regering, wat reeds weens die land se katastrofiese fiskale posisie nie hierdie uitgawes op lang duur kan volhou nie,” sê Reiner Duvenage veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

Daar word gereken dat Suid-Afrika op die rand van ’n “fiskale afgrond” staan. Hiermee word bedoel dat rente of staatskuld, staatsdiens salarisse en maatskaplike toelaes meer as die regering se totale inkomste beloop. Dus, voer AfriForum aan dat die verdere uitbreiding van Covid-19-toelaes geheel en al onbekostigbaar is.

“Die regering se enigste rol is om ’n gunstige situasie te skep vir die privaat sektor om werk, en dus, welvaart voort te bring. Deur toelaes aan byna 50% van die bevolking te betaal, probeer die regering die rol van die privaat sektor oorneem. AfriForum se kommentaar versoek dus van die regering om sy oormatige betrokkenheid in die ekonomie te staak en vir die privaat sektor die vryheid te gee om saam met gemeenskappe werklike vooruitgang en welvaart te verseker,” sluit Duvenage af.

Soortgelyke plasings