AfriForum verwerp voorgestelde verlaagde slaagsyfer in kommentaar op onderwyswysigingsregulasie


AfriForum het vandag kommentaar op die onderwyswysigingsregulasie ingedien waarin die burgerregte-organisasie die voorstel verwerp dat graad 7-, 8- en 9-leerders se slaagsyfer vir hul eerstetaal van 50% na 40% verlaag word, terwyl ’n slaagsyfer van slegs 30% vir alle ander vakke sal geld. Hierdie voorstel is op 23 Februarie 2018 deur Angie Motshekga, minister van basiese onderrig, in die Staatskoerant gepubliseer sodat die publiek kommentaar daarop kan lewer.
Die departement voer aan dat hierdie wysiging daardie leerders wat ’n graad twee of drie jaar moet herhaal, sal help om te vorder, asook sodat graad 7-, 8- en 9-leerders se slaagvereistes met dié van graad 10-, 11- en 12-leerders belyn kan word. Volgens Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys, is hierdie probleme egter té omvangryk om deur die voorgestelde wysiging opgelos te word.

“Een van die redes waarom leerders sommige grade twee of drie keer moet herhaal, is omdat hulle gedwing word om Engels as eerstetaal te neem en daarin onderrig ontvang, terwyl dit in baie gevalle leerders se tweede- of selfs derdetaal is. Leerders beskik nie oor basiese lees- en skryfvaardighede nie en is ook nie in staat om moeilike begrippe te verstaan en weer te gee nie omdat hulle nie die vakinhoud verstaan nie,” sê Bloem.

Die verlaging van die vakslaagsyfer gaan nie die probleem oplos nie. Leerders moet bemagtig word deur onderrig in hul moedertaal te ontvang. Verder moet onderwysers se vaardighede opgeskerp word, kleiner klasse en beter voorsiening van studiemateriaal soos handboeke moet verseker word, terwyl sekere vakbonde se verlammende invloed op skole se funksionaliteit ook uitgeskakel moet word.

“In ’n tyd wat die land onder ’n hoë werkloosheidsyfer en onbekwame dienslewering gebuk gaan, wek só ’n voorstel opnuut kommer oor die onderwysstelsel en kinders se toekoms. Deur standaarde voortdurend te verlaag, word skoolverlaters toenemend minder indiensneembaar. Die departement versaak sy plig teenoor die jeug van Suid-Afrika op ’n tragiese wyse en AfriForum sal nie skroom om enige moontlike stappe te neem om die voorstel teen te staan nie,” sluit Bloem af.

Soortgelyke plasings