AfriForum verwerp voorgestelde wetsontwerp oor Voorkoming en Bestryding van Haatmisdaad en Haatspraak

Die burgerregteorganisasie AfriForum gaan skriftelike kommentaar aan die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling voorlê oor die wetsontwerp oor die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdaad en Haatspraak. Dié kommentaar handel oor die 2019-weergawe van die voorgestelde wetsontwerp. Hoewel dié weergawe reeds aan die vorige parlement voorgelê is, het dit intussen verval. Die wetsontwerp is nou weer eens oopgestel vir kommentaar deur die publiek en sal weer aan die huidige parlement voorgelê word.

Die grondwetlike standaard oor haatspraak is vryheid van spraak wat nie strek tot die aanhitsing van haat gebaseer op ras, etnisiteit, geslag of godsdiens nie en wat nie neerkom op aanhitsing tot geweld nie. Volgens die wetsontwerp sal die blote aanhitsing van haat of skade egter genoeg wees om as haatspraak beskou te word. ’n Ander probleem is dat die “skade” wat in die voorgestelde wetsontwerp gedefinieer word ook emosionele en sosiale skade insluit. Verder is die gronde waarop haatspraak volgens die wetsontwerp gepleeg kan word te verreikend en sluit ouderdom ook in. Die gevolg hiervan is dat dit ’n strafbare oortreding gaan wees om iemand te terg oor hul ouderdom (byvoorbeeld om na iemand te verwys as ’n outoppie). Só ’n oortreding is strafbaar met drie jaar tronkstraf.

AfriForum se standpunt is dat dit slegs haatspraak kan wees as daar ’n direkte oproep tot aksie is om teen ’n persoon of groep op te tree, gebaseer op die vier gronde wat in die Grondwet uiteengesit is, naamlik ras, etnisiteit, geslag en godsdiens. Die wetsontwerp gaan die stryd teen werklike haatspraak belemmer omdat dit die terme te breed definieer.

Ernst van Zyl, veldtogtebeampte by AfriForum, sê dat AfriForum toegewyd is aan die beginsel van vryheid van spraak en dat die organisasie ook ten gunste is van wetgewing teen haatspraak in ’n Suid-Afrikaanse konteks. “Die uitdaging is egter om ’n gesonde balans te vind tussen die aanmoediging van vryheid van spraak en die bevegting van haatspraak. Ons is daarvan oortuig dat die wetsontwerp klaaglik gaan misluk aangesien dit bepaal dat selfs gewone aanstootlike uitlatings as haatspraak beskou word. AfriForum het daarom ’n openbaredeelnameveldtog van stapel gestuur om standpunt teen hierdie wetsontwerp in te neem. AfriForum moedig die publiek aan om hul name by dié veldtog te voeg om AfriForum ’n mandaat te gee om hierdie wetsontwerp teen te staan. Besoek  https://afriforum.co.za/wetsontwerp-op-die-voorkoming-en-bestryding-van-haatmisdade-en-spraak/

Soortgelyke plasings