AFRIFORUM VIER SY 15DE VERJAARSDAG MET 275 000 LEDE!

AfriForum het 15 jaar gelede sy eerste openbare verskyning gemaak in ’n artikel wat op 26 Maart 2006 in Rapport gepubliseer is oor die stigting van ’n “nuwe forum”. Dié organisasie het natuurlik met sy stigting geen lede gehad nie en het slegs oor drie personeellede en beperkte hulpbronne beskik.

Alhoewel ons vasberade was om ’n suksesvolle organisasie te bou, het AfriForum se groei en suksesse die afgelope 15 jaar ons verwagtinge baie vêr oortref. Die talle suksesse wat AfriForum op internasionale, nasionale en plaaslike vlak behaal het, is te veel om hier te noem.

Ons is trots daarop dat AfriForum se aktiewe ledetal pas die 275 000-kerf verbygesteek het. AfriForum het tans meer as 180 personeellede en ’n verdere 100 uitgekontrakteerde diensleweraars. Ons het 159 buurwagte en 156 takke landwyd. Meer as 12 500 vrywilligers vorm ook die hart van AfriForum se aktiwiteite op plaaslike vlak.

Al bogenoemde suksesse is nie die werk van enkelinge nie, maar ’n spanpoging, waarin elkeen van AfriForum se meer as 275 000 lede ’n sleutelrol gespeel het en steeds speel. Dit is lede wat AfriForum sterk maak. Sonder lede is AfriForum niks. Juis daarom wil AfriForum elkeen van ons lede uit die diepte van ons hart bedank. AfriForum se suksesse is julle suksesse.

Ons sê ook dankie aan God vir al die genade wat ons van Bo ontvang om reg te kry wat menslik gesproke onmoontlik gelyk het. Voorts speel AfriForum se direksie, personeel en plaaslike leiers se roepingsgedrewe harde werk ook ’n sleutelrol in ons suksesresep.

AfriForum sien uit na die volgende 15 jaar waarin ons met ons veg-en-bou-plan nie net sal voortgaan om teen agteruitgang te veg nie, maar ook ons bou-aksies drasties gaan versnel. Alhoewel ons trots is op wat ons die afgelope 15 jaar bereik het, besef ons in nederigheid dat daar nog baie is wat gedoen moet word om vir ons en ons nageslag ’n vry, veilige en voorspoedige toekoms hier aan die suidpunt van Afrika te skep. Die beste manier om agteruitgang te beveg, is deur selfstandig aan vooruitgang te bou. AfriForum en die Solidariteit Beweging se gevorderde planne om sterk selfstandige ankergemeenskappe – waarin ons gemeenskappe hul toekoms in hulle eie hande neem – uit te bou; asook ons planne vir groeiende outonomie vir die Wes-Kaap, bied opwindende moontlikhede wat hoop vir die toekoms gee.

Ons kan, ten spyte van die regering se wanbestuur en korrupsie, self ’n toekoms bou. Die Solidariteit Beweging se nuwe Sol-Tech-kampus, die graadkursusse wat Akademia aanbied, AfriForum se nuwe teater en AfriForum se 159 buurtwagte is tasbare bewyse dat selfstandigheid nie ’n slegs ’n droom hoef te wees nie. Dankie dat jy as lid hierdie selfstandigheid help uitbou. Ons gaan, ons wil en ons kan nog baie meer doen in die komende jare!

Soortgelyke plasings