AfriForum voer gesprek met munisipale raadslede in Springbok


AfriForum se Springbok-tak het gedurende Junie 2017 gesprekke met die Nama Khoi Plaaslike Munisipaliteit gevoer ten einde insae te hê in die jaarlikse begroting wat op 1 Julie 2017 in werking getree het.
AfriForum se voorstelle wat as deel van die begrotingsbesluit deur die raadslede aanvaar is, sluit in:

  1. ’n Moratorium word geplaas op indiensneming in terme van sekere vakatures wat in die loop van 2017/2018 ontstaan, behalwe in die geval van senior amptenare en waar die munisipale raad vooraf goedkeuring in hierdie verband gegee het;
  2. Die uitvoerende komitee sal sy toesighoudende verpligting aangaande skuldinvordering prioritiseer, sorg dat alle finansiële wangedrag ondersoek word en die burgemeester opdrag gee om toe te sien dat alle maandelikse begrotingsverslae aan die munisipale raad voorgelê word. Die uitvoerende komitee moet ook sorg dat alle amptelike dokumente ingevolge wetgewing op die munisipaliteit se webtuiste geplaas word;
  3. Alle oortyd van werknemers word tot ’n minimum beperk.

“Daar is verskeie probleme wat hierdie munisipaliteit in die gesig staar en hierdie besluite deur die raad spreek slegs ’n breukdeel daarvan aan. Ons sal egter voortdurend druk op die munisipaliteit en die LUR plaas om probleme van dié aard aan te spreek en oplossings te vind,” sê Henk de Waal, voorsitter van die plaaslikeregeringsakeportefeulje vir AfriForum se Springbok-tak.

AfriForum het voorts ook skrywes aan Alvin Botes en Mac Jack, onderskeidelik die LUR vir samewerkende regering en die LUR vir ekonomiese ontwikkeling, finansies en die tesourie in die Noord-Kaap, gestuur. Hierdie skrywes behels dat die LUR’s se kantore hul oorsigfunksie moet uitoefen en stappe in plek moet plaas om die versuim om wetgewing na te kom stop te sit en te remedieer.
Inwoners van Springbok kan betrokke raak by die Springbok-tak: SMS “Springbok” na 32532 (R1).

Soortgelyke plasings