|

AfriForum volg klagtes op oor gesondheidsdepartemente se verkwiste R10 miljard

AfriForum het skrywes aan die gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid in al nege provinsies gerig om die strafregtelike klagtes op te volg wat die burgerregte-organisasie teen die nege departementshoofde van gesondheid in November 2018 ingedien het.

Hierdie nege departemente was almal skuldig aan onreëlmatige, vrugtelose, verkwistende en ongemagtigde besteding ter waarde van meer as R10 miljard gedurende die 2016/2017 finansiële jaar. Hierdie inligting is uit die departemente se jaarverslae bekom.

Volgens Wico Swanepoel,  AfriForum se regsadviseur vir plaaslikekorrupsiesake, is daar tot dusver geen daadwerklike vordering met die ondersoek getoon nie. “Ons het die streekshoofde van die handelsmisdaadeenheid versoek om met hul kundigheid in te gryp om die ondersoeke teen hierdie misdrywe behoorlik te laat vorder.”

Volgens Swanepoel het AfriForum tot dusver slegs terugvoer oor dié klagtes vanaf twee provinsies, naamlik Vrystaat en KwaZulu-Natal, ontvang.

In dié provinsies het AfriForum strafregtelike klagtes ingedien teen M.N.G Mahlatsi, gesondheidsdepartementshoof in die Vrystaat, vir die wanbesteding van R300 miljoen. Daar is ook klagtes teen dr. Sifiso Mtshali, huidige  gesondheidsdepartementshoof in KwaZulu-Natal, ingedien wat in die 2017/2018 finansiële jaar ook R1,3 miljard wanbestee het.

In die brief aan die eenheid skryf Swanepoel dat Artikel 34(1) van die Wet op die Voorkoming en Bestryding van Korrupte Aktiwiteite, 2004 (Wetno. 12 van 2004), ’n plig op persone in gesagsposisies plaas om korrupsie aan te meld, te ondersoek of te laat ondersoek.

“Hulle moet onreëlmatige, ongemagtigde, vrugtelose en verkwistende besteding voorkom en skuldige partye aanspreeklik hou. Verder is departementshoofde verplig om volledige rekords van hul departemente se finansiële sake ingevolge voorgeskrewe wetgewing, norme en standaarde by te hou. Dit is egter duidelik uit die departemente se jaarverslae dat hierdie verantwoordelikhede glad nie nagekom word nie,” meen Swanepoel.

 

Soortgelyke plasings