AfriForum volg strafregtelike klagtes met DOV in Vrystaat op


AfriForum het op 27 Februarie 2018 skrywes aan adv. Malini Govender, die waarnemende direkteur van openbare vervolging (DOV) in die Vrystaat, gerig om vas te stel of dié DOV al besluit het om twee sake van korrupsie te vervolg, al dan nie. Dit volg nadat AfriForum in Maart en Mei 2016 verskeie strafregtelike klagtes van onder meer munisipale bedrog en korrupsie in Bethlehem en Bloemfontein gelê het.
In Bethlehem is munisipale bedrog van ongeveer R85 miljoen oopgevlek en in Bloemfontein het dit aan die lig gekom dat ongeveer R400 miljoen, wat vir laekostebehuising geoormerk was, onregmatig aan kontrakteurs en verskaffers uitbetaal is ten spyte daarvan dat geen Heropbou- en Ontwikkelingsprogram (HOP)-huise gebou is nie. Twee van die bevoordeelde kontrakteurs en verskaffers is onder andere Hlaudi Motsoeneng en Nozuko Mbalula, Fikile Mbalula (gewese minister van polisie) se vrou.

“AfriForum sal hierdie sake steeds moniteer aangesien ons daarvan bewus is dat regeringsamptenare en hul families moontlik by hierdie korrupsie en bedrog betrokke was en moontlik spesiale behandeling ontvang. AfriForum se privaat vervolgingseenheid is juis gestig met die doel om toe te sien dat almal gelyke behandeling voor die reg geniet en dat selektiewe vervolging nie toegepas word nie,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid.

Die ondersoekbeamptes in beide sake het aangedui dat die ondersoeke goed verloop en dat die sake by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) is wat ’n besluit moet neem oor of vervolging ingestel gaan word.

“AfriForum wil die publiek aanmoedig om standpunt teen korrupsie in te neem. Ons beplan om opleiding op grondvlak te gee oor wat korrupsie behels, hoe dit blootgelê kan word, inligting wat benodig word om suksesvol te vervolg en hoe korrupsie moontlik voorkom kan word. Hierdie opleiding kan deur lede en nielede bygewoon word en sal deur adv. Gerrie Nel aangebied word. Die datums en tye sal mettertyd bekend gemaak word,” sê Wico Swanepoel, AfriForum se regsadviseur vir plaaslikekorrupsiesake.

Jy kan help om korrupsie en bedrog in jóú dorp bloot te lê. SMS jou dorp se naam na 45352
(R1).

Soortgelyke plasings