AfriForum voltooi Limpopo-vullisterreinoudit: Dringende verandering is nodig


Die burgerregte-organisasie AfriForum het die afgelope maand al die vullisterreine in Limpopo aan die hand van 33 vrae geoudit as deel van sy jaarlikse veldtog waartydens vullisterreine gemeet word in dié dorpe waar AfriForum-takke gevestig is. Daar is bevind dat dringende verandering gaan moet plaasvind by sekere munisipaliteite om aan wetgewing te voldoen.
Volgens toepaslike wetgewing en regulasies, onder meer die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis, 2008 (wetno. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen wat toegangsbeheer, brandregulasies, asook regulasies oor onwettige storting, omheining en rehabilitasie behels. ’n Vullisterrein moet minstens 80% behaal om AfriForum se oudit te slaag.

Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, sê dat alle vullisterreine wat minder as 80% behaal het op standaard gebring moet word en dat munisipaliteite verantwoordelikheid sal moet neem vir die bestuur van afval. “Die effek van die vullisterreine wat substandaard is, het ’n groot negatiewe impak op sowel die omgewing as die gemeenskap. Daar rus ook ’n mate van verantwoordelikheid op die gemeenskap om toenemende druk op munisipaliteite te plaas waar die vullisterreine nie aan wetgewing voldoen nie.”
Grobbelaar noem ook dat daar wel drie vullisterreine was wat die oudit met lof geslaag het. “Tzaneen het 100% behaal tydens die oudit. Dit is ’n goeie voorbeeld van hoe vullis bestuur moet word en ons wil dié munisipaliteite waar die vullisterreine nie aan wetgewing voldoen nie, aanmoedig om te gaan leer by munisipaliteite waar die vullisterreine wel suksesvol bestuur word.”

Een van die vullisterreine wat AfriForum gedurende Juliemaand besoek het, was die Leeupoort-vullisterrein waar daar na afloop van die oudit bevind is dat dit nie aan nasionale standaarde voldoen nie.

“Die Leeupoort-vullisterrein het slegs 2% behaal. Dit is nie omhein nie, is erg met mediese afval besoedel en brande kom ook voor. ’n Aantal mense woon ook op die perseel, wat ’n groot gesondheidsrisiko inhou,” voeg Grobbelaar by.

Só het die dorpe gevaar:

AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat vullisterreine wat tekortskiet op standaard gebring word.
 

Soortgelyke plasings