AfriForum vra dat SAPD opdok vir koste


AfriForum het met regstappe teen die SAPD begin om koste en uitgawes verbonde aan ʼn dringende uitsettingsaansoek in 2018 te verhaal ná die SAPD versuim het om hul pligte na te kom tydens ’n grondgryp wat hom naby Onderstepoort in Pretoria afgespeel het.
Die SAPD het in Augustus verlede jaar geweier om dr. Motodi Maserumule by te staan om betreders te arresteer wat sy grond wederregtelik betree en begin het om strukture op te rig.
Maserumule het AfriForum genader, waarna die burgerregte-organisasie ’n dringende hofbevel bekom het wat gelas het dat die betreders verwyder moet word en die SAPD die balju daarmee behulpsaam moet wees. ’n Mandaat is toe deur Maserumule en AfriForum aan die Rooimiere gegee om die betreders se strukture te verwyder. Die koste hieraan verbonde beloop egter ongeveer R600 000 en dit is hierdie koste wat AfriForum nou van die SAPD wil verhaal.
AfriForum maak van die daargestelde litigasieroetes gebruik om die SAPD en sy individuele lede vir hul versuim verantwoordelik te hou.

“AfriForum sal aanhou om die nodige stappe te neem om wetstoepassingsowerhede, en enige ander liggaam of persoon wat grondgrype duld en hul pligte verontagsaam, te verplig om aan hul mandaat te voldoen, asook om die verontregte party te vergoed vir uitgawes wat aangegaan is, maar verhoed kon word,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.

AfriForum sal ook regskoste wat gevorder is, aanwend om verdere grondgrype te beveg.

“Hierdie tipe stappe moet toenemend geneem word om te verseker dat die toepaslike owerhede persoonlik aanspreeklik gehou word as hulle hul plig versuim,” sluit Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder, af.

Soortgelyke plasings