AfriForum versoek Gauteng-ouers om graad 1- en 8-leerders spoedig te registreer


Gauteng se aanlynskoleregistrasieproses vir leerders wat in 2018 in graad 1 of 8 sal wees, open op 2 Mei 2017 om 8:00.
Volgens Carien Bloem, projekkoördineerder vir onderwys by AfriForum, het die aanlynregistrasieproses in die verlede groot probleme in die provinsie veroorsaak. AfriForum doen daarom ’n beroep op ouers van kinders wat in 2018 in graad 1 of 8 sal wees, om die kinders betyds by die skool van hul keuse te registreer.
Dit blyk dat die plasing van leerders vir aanstaande jaar chronologies gaan geskied, wat sal beteken dat ’n leerder wat ver van die skool af woon en geen broers of susters in die skool het nie, maar vroeg op 2 Mei 2017 registreer, voorrang sal kry bo ’n kind wat naby die skool woon en/of sibbe in die skool het, maar eers later in die maand registreer. Hoe vroeër kinders dus geregistreer word, hoe beter.
AfriForum herinner ouers ook om seker te maak dat hulle die regte dokumentasie by hulle het, naamlik ’n geboortesertifikaat of identiteitsdokument van die kind, asook ’n bewys van adres.
Die stelsel het in die verlede onder tegniese probleme gebuk gegaan. Ouers word daarom ten sterkste aangeraai om deurentyd skermskote te neem van alle prosesse wat aanlyn uitgevoer word. Sou die inskrywing later betwis word, kan dit as bewysstukke dien. Ouers moet ook met die voornemende skool kruiskontroleer of die inskrywing aan die skool se kant ontvang is.
Enigeen wat probleme met die proses ervaar, is welkom om dit op AfriForum se webtuiste onder die skakel “Eenstop Onderwysinligtingsblad” (https://afriforum.co.za/jou-eenstoponderwysinligtingsblad/) aan te meld.

Soortgelyke plasings