AfriForum vra NERSA om Abaqulusi te ondersoek


AfriForum se Vryheid tak het ’n klag by die Nasionale Energie Reguleerder van Suid-Afrika (NERSA) gelê, om die Abaqulusi Munisipaliteit in Vryheid te ondersoek. Daar kom gereeld kragonderbrekings in dié dorp voor en die munisipaliteit beskik nie oor die vermoë om hul beloftes in volhoubare oplossings om te skakel nie.

Verbruikers van die Elandsberglyn – wat Vryheid Hill Natuurreservaat, Stilwater, Zaailaagte, Scheepersnek en Scotshill bedien – sien geen ander oplossing vir dié kragonderbrekings nie. Twee vergaderings is reeds met die burgemeester en sy personeel gehou, maar die probleem het net vererger.

“Ons ondervind daagliks kragonderbrekings tydens kritieke besigheidsure. Ondernemings word tot stilstand gedwing en ly reuse- finansiële verliese. Boonop berokken die onderbrekings erge skade aan elektroniese toerusting. Dit is werklik betreurenswaardig dat ons tot hierdie stap moes oorgaan, maar daar is geen ander uitweg nie,” sê André van der Walt, voorsitter van AfriForum se Vryheid-tak.
“Dit is NERSA se grondwetlike plig om toe te sien dat energieverspreiders by hul lisensievoorwaardes hou; ook om op te tree indien hierdie voorwaardes nie nagekom word nie,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder van KwaZulu-Natal.

Ondersteun AfriForum om jou gemeenskap te help: SMS “Vryheid” na 45267 (R1).

Soortgelyke plasings