AfriForum vra redes van verdedigingsminister oor rasse-uitlatings


Die burgerregtewaghond AfriForum het Nosiviwe Noluthando Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, 90 dae gegee om redes te verskaf waarom daar nie teen maj. M.V. Mohlala van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se seinformasie by die Wonderboom- millitêre basis in Pretoria opgetree is nie. Mohlala het uitlatings gepubliseer wat uiters kwetsend, rassisties en nadelig is en binne die definisie van haatspraak val.
Dié gebeure volg nadat twee bejaarde mans, prof. Kobus Naude (76) en ds. Braam van Wyk (80), wreed deur onbekende aanvallers aangerand is. Prof. Naude is met ’n slagmes in die bors gesteek en het nie die aanval oorleef nie. Ds. Van Wyk het ernstige beserings in die aanval opgedoen.
Nadat foto’s van ’n erg beseerde Van Wyk op Facebook geplaas is, het majoor Mohlala op dié Facebook-inskrywing kommentaar gelewer dat die slagoffer se oë ook uitgesteek en sy tong uitgesny moes word sodat die laaste mense wat hy ooit sou sien sy moordenaars sou wees en dat hy met daardie prentjie na sy graf kon gaan. Mohlala het verder genoem dat apartheid binne-in die slagoffer skuil en dat alle wit oumense dink dat hulle (swart mense) onnosel is wanneer hulle (wit oumense) beweer dat hulle teen apartheid gekant was. Hy het ook gesê dat hy nie sal vergeet wat tydens apartheid aan hulle (swart mense) gedoen is nie en dat dit nou wit mense se beurt is.
Mohlala se uitlatings kom duidelik op haatspraak neer. Artikel 105(1) van die Suid-Afrikaanse Nasionale Verdedigingswet (Wet no. 42 van 2002) bepaal ook dat dit as ’n strafregtelike oortreding gedefinieer word wanneer enige lid van die SANW woorde uiter of optrede ten toon stel wat neerkom op vyandigheid, afgunstigheid of vernedering van enige persoon gebaseer op sy ras, geslag, ouderdom, taal of kultuur. Volgens dié wetsbepaling kan ’n persoon wat aan sodanige misdryf skuldig bevind word tot vyf jaar gevangenisstraf opgelê word. Die plaaslike bevelvoerder van die eenheid waar Mohlala gestasioneer is, het egter nie verder teen Mohlala opgetree nie en hom bloot berispe en vermaan om nie die SANW se beeld in onguns te bring nie.
Die doel van AfriForum se skrywe is om die minister geleentheid te gun om redes te gee vir die besluit om nie strafregtelik teenoor Mohlala op te tree nie, aangesien AfriForum beplan om die minister se besluit op geregtelike hersiening te neem indien daar onvoldoende redes vir dié besluit bestaan. Die nuus van Mohlala se brutale haatspraak teen ’n weerlose bejaarde man wat die slagoffer van ’n ernstige misdaad was, kom in dieselfde week waarin Vicki Momberg, ’n eiendomsagent, vir twee jaar tronk toe gestuur is omdat sy ’n polisiebeampte met rassistiese skeldname toegesnou het. Volgens Willie Spies, AfriForum se regsadviseur, is albei voorvalle ewe onaanvaarbaar, maar is dit skreiend dat Mohlala skotvry wegkom terwyl ’n wit vrou wat ’n swart persoon skeldname toegesnou het vir twee jaar tronk toe gestuur word. AfriForum sal alles in sy vermoë doen om die oneweredige toepassing van regsreëls te beveg en toe te sien dat gelykheid voor die reg bevorder word en sekere persone nie op grond van hul ras swaarder as ander gestraf word nie.

Soortgelyke plasings