AfriForum vra vir erkenning van gemeenskappe by die VN

Die burgerregteorganisasie AfriForum versoek die Verenigde Nasies (VN) om die belangrikheid van gemeenskappe in die implementering van die 2030-agenda vir volhoubare ontwikkeling te erken. Die organisasie het ’n geskrewe verklaring ingedien vir die 2022 ECOSOC (VN se Ekonomiese en Maatskaplike Raad) Hoëvlak Segment (HLS) wat van 13 tot 18 Julie plaasvind. AfriForum het ook ’n versoek ingedien om ’n mondelinge voorlegging tydens vanjaar se geleentheid af te lê.

Die organisasie se verklaring het gefokus op probleme wat die oorsaak is van staatsmislukking in Suid-Afrika soos misdaad, burgerregteskendings, onvoldoende dienslewering en korrupsie. AfriForum het egter ook voorspraak gemaak vir ‘n gemeenskapsgebaseerde onder-na-bo-benadering om vrede, voorspoed en vryheid in Suid-Afrika en regoor die wêreld te verseker. As ’n geregistreerde lid van ECOSOC met spesiale raadgewende status sedert 2020, neem AfriForum gereeld deel aan geleenthede soos hierdie by die VN.

“ECOSOC bied ’n platform vir AfriForum om die belange van ons lede en die algemene publiek op die wêreldverhoog te verteenwoordig. Ons hoop dat die lesse en oplossings in ons verklaring ECOSOC sal inspireer om uit Suid-Afrika se mislukkings te leer en die fundamentele belangrikheid van gemeenskappe in die bou van ’n beter toekoms te erken,” sê Reiner Duvenage, AfriForum se veldtogbeampte vir strategie en inhoud.

Soortgelyke plasings