AfriForum-vullisterreinoudit: Stellaland-vullisterreine in haglike toestand


Die burgerregte-organisasie AfriForum het gedurende die eerste twee weke van Oktober 2017 die vullisterreine in Stellaland geoudit en bevind dat dit in ’n haglike toestand is en nie aan nasionale standaarde voldoen nie.
Dié oudit vorm deel van ’n jaarlikse nasionale veldtog waartydens vullisterreine in dorpe waar AfriForum-takke gevestig is, aan die hand van 33 vrae gemeet word. ’n Vullisterrein moet 80% behaal om aan die gestelde standaarde te voldoen, maar geen vullisterrein in Stellaland kon hierin slaag nie.
Volgens toepaslike wetgewing en regulasies, onder meer die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis (wetno. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen. Dit sluit faktore soos toegangsbeheer, onwettige storting, brandregulasies, omheining en rehabilitasie in.

“Die vullisterreine in Stellaland het slegs tussen 2% en 50% behaal. Die terreine beskik wel oor afvalbestuurslisensies, maar voldoen beslis nie aan die bogemelde vereistes nie. Die meeste vullisterreine is nie omhein nie, en dié wat wel omhein is, se heinings is in só ’n swak toestand dat die vullis in elk geval oral rondlê. In die meeste gevalle woon daar mense op die vullisterrein, wat ’n groot gesondheidsrisiko inhou en gepaardgaan met vure wat ’n brandgevaar inhou. Geen mediese afval is opgemerk nie, maar wel dierkarkasse en bande,” sê Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland.

AfriForum beplan om skrywes aan sowel plaaslike as distriksmunisipaliteite te rig waarin hulle gemaan word om onmiddellik aksie te neem met betrekking tot die toestand van die vullisterreine. Indien dit nie gebeur nie, sal strafregtelike klagtes teen die betrokke partye gebring word.
Die vullisterreine in Stellaland het soos volg presteer:

Vullisterrein Persentasie
Vryburg 50%
Schweizer-Reneke 16%
Delareyville 6%
Stella 4%
Bloemhof/Christiana 2%
Ottosdal/Sannieshof 2%

 
AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat die vullisterreine op standaard gebring word.

Soortgelyke plasings