AfriForum waarsku rade dat taalregteskendings vele regte in gedrang bring


Die burgerregte-organisasie AfriForum is bekommerd oor professionele rade en soortgelyke instellings se hantering van taalregte en hulle behartiging van die belange van nie-Engelssprekende Suid-Afrikaners.
Hierdie kwessie is weer onder AfriForum se aandag gebring toe ’n Afrikaanssprekende lid wat gelas is om voor die Raad vir Mediese Skemas te verskyn ’n Afrikaanse verhoor geweier is. Hy is nou verplig om ’n tolk te vind en dié kostes self te dra.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum wat vir taalregtekwessies verantwoordelik is, kan hierdie praktyk tot die ernstige skending van vele regte aanleiding gee. “Ons lid is Engels goed magtig en kan self die tolk kontrakteer om namens hom op te tree, maar wat gebeur in die geval van persone wat soortgelyke verhore voor professionele rade in die gesig staar en nie so taalvaardig of welvarend is nie?”
Bailey het weer beklemtoon dat persone selde in ’n tweede taal só vertroud is met die woordeskat dat hulle alle regsaspekte en argumente volledig sal verstaan en na behore daarop sal kan antwoord. “Vervolgens kan misverstande aanleiding gee tot ernstige regsvergrype wat in die ergste gevalle selfs strafregtelike vervolging of die einde van iemand se loopbaan tot gevolg mag hê.”
AfriForum doen ’n beroep op die publiek om by rade op tolkdienste aan te dring en sodoende te verseker dat hulle regte beskerm word. “Volgens 2011 se sensussyfers is meer as 90% van Suid-Afrikaners se moedertaal nie Engels nie. Hierdie mense het die reg tot verteenwoordiging in hul eie taal wanneer hulle loopbaan en toekoms op die spel is,” sê Bailey.

Soortgelyke plasings