AfriForum waarsku SAOG en AU oor listeriosesterftes


AfriForum het vandag ’n brief aan die Afrika-unie (AU) en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) gerig waarin dié organisasie sy kommer oor die drastiese toename in bevestigde listerioseverwante sterftes uitspreek. Dit is volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) die ergste listeriose-uitbreking in wêreldgeskiedenis.

“Die dodetal het van 36 in Desember 2017 baie vinnig tot nagenoeg 200 in Februarie 2018 gestyg. Die aantal bevestigde laboratoriumgevalle is nagenoeg 1 000. Sedert dr. Aaron Motsoaledi, minister van gesondheid, die uitbreking daarvan in 2017 bekend gemaak het, het die staat min vordering getoon om die oorsprong van listeriose te vind of sterftes te verhoed. Die regering blyk nie in staat te wees om die krisis na behore die hoof te bied nie,” sê dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsdienste by AfriForum.

Bron: Wêreldgesondheidsorganisasie (Grafika: AfriForum Navorsingsinstituut (ANI))

AfriForum is tans besig om ’n omvattende verslag op te stel wat die probleem, oorsprong, oordrag en die situasie in Suid-Afrika en die res van die wêreld ontleed. Die verslag bevat ook wenke om weerloses te beskerm.

“Die burgerlike samelewing neem nou verdere stappe om te bepaal hoe listeriose ontstaan en gestuit kan word, aangesien die minister tot op hede geen antwoorde kon verstrek nie. Die tweede grootste uitbreking van listeriose was ’n paar jaar gelede in die VSA en toe was die syfer van bevestigde gevalle minder as die huidige sterftesyfer in Suid-Afrika,” sê dr. Brink met verwysing na die grafiek hierbo.

AfriForum sal die verslag en inhoud met kettingwinkels bespreek en aanbevelings in die algemene publiek se belang maak.

“Ons gaan kettingwinkels ontmoet en saam aan maatreëls beplan om dié probleem hok te slaan. Die Minister se kantoor het tot op hede geen antwoorde op AfriForum se vrae verskaf nie. As deel van ons waghondfunksie sal ons voortgaan om druk op die staat en ander voedselrolspelers te plaas,” sê Marcus Pawson, hoof van omgewingsake by AfriForum.

Soortgelyke plasings