AfriForum wen hofsaak teen Tokologo Plaaslike Munisipaliteit oor water in Dealesville


AfriForum het op 23 Februarie 2018 ’n reuse-oorwinning met die hofsaak teen die Tokologo Plaaslike Munisipaliteit in die Vrystaatse hoë hof behaal. Die burgerregte-organisasie het ’n aansoek gebring om dié munisipaliteit verantwoordelik te hou vir watervoorsieningskostes wat AfriForum in 2016 aangegaan het om die mense van Dealesville van water te voorsien.
Die munisipaliteit was nie in 2015 in staat om inwoners van dié dorp van water te voorsien nie, omdat die munisipale pompe nie in stand gehou is nie. Die munisipaliteit het daarom ’n ooreenkoms aangegaan met Neville Collet, ’n boer in die omgewing, ingevolge waarvan Collet water vanuit ’n boorgat op sy plaas aan die dorp voorsien het. Die munisipaliteit het na ’n jaar egter betalings vir die water aan Collett gestaak sonder om die ooreenkoms met Collet kontraktueel te beëindig. Die munisipaliteit het Collett nog R200 000 geskuld.
AfriForum het die munisipaliteit hierna deurlopend gemaan om die watervoorsieningsooreenkoms met Collett te handhaaf, aangesien dié boorgat baie standhoudend is, waterverbruik deurlopend toegeneem het en daar verwag kon word dat sommige van die munisipale boorgate waarskynlik tydens droogtes – wat baie gereeld in dié streek voorkom – sou ingee.
AfriForum het daarom vir ses maande lank betalings aan Collet ten bedrae van R200 000 gemaak om water van sy plaas na die plaaslike reservoir van die dorp te pomp ná ’n waterkrisis die dorp in Desember 2015 getref het. AfriForum het in ’n skrywe aan die munisipaliteit gemeld dat dit nie vanaf 31 Augustus 2016 meer vir die tak finansieel moontlik sou wees om die koste vir die pomp van die water te dra nie.

“Die munisipaliteit het nooit beswaar gemaak dat water deurlopend vanuit ’n niemunisipale bron aan die munisipale stelsel gelewer is nie.  Daar is dus geen manier dat hulle nie kon geweet het dat AfriForum vir hierdie waterlewering betaal het nie. Die hof se uitspraak is die beste uitkoms waarop ons kon hoop,” sê Joseph Renaud, AfriForum se streeksverteenwoordiger vir die Vrystaat.

Inwoners van die Vrystaat kan by hul naaste AfriForum-tak betrokke raak: SMS jou naam na 45266 (R1).

Soortgelyke plasings