AfriForum werf steun in VSA teen onteiening en plaasmoorde


Die burgerregte-organisasie AfriForum het die afgelope week in Washington, D.C. groot vordering gemaak met sy inisiatief om buitelandse steun te werf vir sy veldtogte met betrekking tot die beskerming van eiendomsreg en die prioritisering van ’n aksieplan teen plaasmoorde.

As deel van hierdie skakeltoer het AfriForum ’n vergadering met ’n afvaardiging van die Amerikaanse regering gehad, asook met sewe verteenwoordigers in die Amerikaanse senaat en huis van verteenwoordigers. AfriForum is ook die geleentheid gebied om ’n voorlegging oor die situasie in Suid-Afrika te maak tydens ’n vergadering van die invloedryke drukgroep Americans for Tax Reform. Volgens Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, is dié voorlegging baie goed ontvang.
Roets het voorts gesê dat AfriForum met navorsingsinstellings, politici en media-instellings van regoor die spektrum praat. Verskeie media-instellings regoor die VSA – waaronder TV-nuusprogramme, aanlyn nuusprogramme en radiostasies – het reeds onderhoude met AfriForum gevoer.

“Ons indruk is dat kommer reeds uitgespreek is oor die situasie wat in Suid-Afrika bestaan, asook oor die potensiële gevolge wat dit vir die VSA kan inhou. Ons doel is om die Amerikaanse regering, politici en invloedryke stemme in die media te kry om in die openbaar standpunt in te neem oor die situasie in Suid-Afrika en om diplomatieke druk op die Suid-Afrikaanse regering toe te pas om eiendomsreg te beskerm en konsekwent teen geweldmisdaad op te tree. Die toer was tot op hede ’n reusesukses.”

Mariandra Heunis, ’n slagoffer wie se man Johann in Oktober 2016 tydens ’n plaasaanval vermoor is, vorm deel van AfriForum se afvaardiging. Sy deel nie net haar verhaal nie, maar bied ook perspektief en insig ten opsigte van hoe slagoffers deur plaasaanvalle geraak word.

“Dit is veral nodig, aangesien pres. Ramaphosa onlangs in die VSA gesê het dat daar nie so iets soos plaasmoorde in Suid-Afrika is nie. Die president se ontkenning van die krisis is nie net ’n verleentheid nie, maar ook ’n skending van die waardigheid van duisende slagoffers wat self op plase aangeval is of wat geliefdes op hierdie manier aan die dood moes afstaan.”

Die skakeltoer word in die komende week in New York voortgesit, waar AfriForum veral met media-instellings sal skakel.

Soortgelyke plasings