| |

AFRIFORUM WERK HARD OM MACHADODORP TE VERBETER

AfriForum se Machadodorp-tak en -buurtwag werk die afgelope tyd hard om misdaad in dié dorp en omliggende gebiede te bekamp en om die gemeenskap te verbeter vir plaaslike inwoners.

Op 28 Mei 2021 het die buurtwag gehelp om ’n gekaapte vragmotor terug te vind en die vrag te beveilig. Die buurtwag en lede van JHD Sekuriteit is deur ’n voertuigopsporingsmaatskappy in kennis gestel van die vragmotor wat gekaap is. Hul het onmiddellik na die toneel gehaas waar die vragmotor verlate gevind is.

Die vragmotor se seile was oopgemaak en van die drank wat op die voertuig was, is verwyder. Buurtwaglede het die gebied rondom die voertuig beveilig om verdere diefstal te voorkom totdat die SAPD kon oorneem op die toneel.

AfriForum se Machadodorp-tak het op dieselfde dag slaggate in Wesstraat herstel. Hierdie projek vorm deel van ’n deurlopende projek wat die tak van stapel gestuur het. Vanaf Maart tot op hede is verskeie strate in die dorp reeds herstel.

“Ons is trots op ons dorp en daarom sal ons aanhou om te bou aan ’n toekoms vir ons mense hier. Ons sal ons nie laat afsit deur die onvermoë van die Emakhazeni Munisipaliteit nie,” sê Henrico Duvenhage, voorsitter van AfriForum se Machadodorp-tak.

Die tak moedig die gemeenskap aan betrokke te raak by die buurtwag en tak om deel te word van ’n veilige toekoms. SMS jou naam na 45340 (R1) en sluit aan by AfriForum.

Soortgelyke plasings