AfriForum werk saam met munisipaliteit om slaggate te vul


AfriForum se Naboomspruit-tak het die naweek in samewerking met Mookgopong Plaaslike Munisipaliteit slaggate in die dorp gevul. Die AfriForum-tak het 150 sakkies teer aangekoop en die munisipaliteit het die arbeid verskaf om die slaggate te vul. Dié AfriForum-tak het ook die tweede gedeelte van die stop- en voetoorgangtekens by Laerskool Eugene Marais geverf.

Die aksies is geloods met die doel om die dorp te verbeter en op te knap vir die Bokkieweek wat in Julie voorlê. Volgens Phillip van Staden, voorsitter van AfriForum se Naboomspruit-tak, is daar egter nog baie werk wat gedoen moet word voordat die tak hul doelwit bereik. “Ons wil graag ’n positiewe verskil in die dorp maak en met selfdoenaksies soos hierdie, asook samewerking tussen verskillende owerhede, is ons in staat om ’n daadwerklike verskil te maak. Ons het nog heelwat werk om te doen en sal aanhou om die goeie werk voort te sit,” sê Van Staden.

Inwoners van die Gholfpark-gemeenskap het ook teer aangekoop wat hulle gaan gebruik om self die slaggate in hul area te vul.
Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, sê dat sulke samewerking tussen die gemeenskap en die plaaslike munisipaliteit baie belangrik is om ’n positiewe verskil te maak.
Om deel te word van die inisiatief kan jy die woord “slaggate” SMS na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings