|

AfriForum wil aanhitsers van geweld aan die pen laat ry

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag strafregtelike klagtes teen 12 individue by die Lyttelton polisiestasie ingedien wat herhaaldelik rassistiese boodskappe op sosiale media geplaas het wat geweld en moord aanhits.

Dié beëdigde verklarings is met die hulp van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en die strafregkenner dr. Llewellyn Curlewis voorberei.

Die verklarings is die eerste in ’n reeks van klagtes wat by die SAPD aanhangig gemaak sal word nadat die burgerregte-waghond verlede jaar ʼn klagtekanaal geskep het waar lede van die publiek haatspraak, rassisme en aanhitsing tot geweld op sosiale media-platforms, kon aanmeld.

Volgens Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het die organisasie sowat 400 klagtes ontvang en is die gewelddadige aard van sekere inskrywings baie kommerwekkend. “Ons het gruwelike inskrywings ontvang wat onder andere mense aanmoedig om die kinders en vrouens van wit mense te verkrag, terwyl moord en geweld aanmoedig of rassistiese uitlatings gemaak word.”

Roets meen daar is ʼn behoefte om dié tipe inskrywings aan te kaak te stel omdat dit nie net lasterlik is nie, maar ook ʼn misdaad is.

Hy sê voorts dat die burgerregte-organisasie met senior lede van die polisie gekonsulteer het wat hul aangemoedig het om met die afdelingshoof van die elektroniese misdaadeenheid van die Valke asook strafregkenners te vergader en die klagtes van aanhitsing tot geweld by ʼn polisiestasie in te dien. Die klagtes sal dan oorgeplaas word na deskundiges wat spesialiseer in kubermisdaad. Klagtes van haatspraak en rassisme sal egter by die menseregtekommissie (MRK) ingedien word.

Volgens Roets sal AfriForum ook vanjaar ʼn amptelike eenheid begin om hierdie tipe klagtes te evalueer en vir verdere ondersoek te verwys.

Indien die omstrede wetsontwerp op die voorkoming en bestryding van haatmisdade en haatspraak, wat in Oktober 2015 deur die kabinet goedgekeur is, in sy huidige vorm aanvaar word, kan Suid-Afrikaners wat hulle aan enige vorm van rassisme skuldig maak tot tien jaar tronkstraf opgelê word.
Dié wetsontwerp maak ook voorsiening vir haatspraak op sosiale mediaplatforms.

AfriForum het reeds sy voorbehoud oor dié wetsontwerp uitgespreek dat dit moontlik op ʼn selektiewe wyse toegepas kan word, soos wat blyk uit verskeie uitsprake deur ANC-woordvoerders.

Die burgerregte-organisasie meen dat hoewel hul sterk daaroor voel dat rassisme beveg moet word, die ANC reeds bewys het dat hy nie tussen staat en party kan onderskei nie.

Lede van die publiek kan klagtes van haatspraak, rassisme of aanhitsing tot geweld na rasklag@afriforum.co.za toe stuur.

Soortgelyke plasings