|

AfriForum wil Afrikaanse filmbedryf bevorder met die #Fliekopdieveld-promosietoer

MEB Facebook banner FODV_V2

Die burgerregte-organisasie AfriForum, in samewerking met die filmspan van Modder en Bloed, bied ʼn promosietoer aan wat ten doel het om dié Suid-Afrikaanse fliek op ʼn unieke manier na die grootskerm te bring deur buitelugvertonings in sowat 36 dorpe landwyd te hou.

Volgens Beatrice Pretorius, woordvoerder vir die #Fliekopdieveld- promosietoer, wil die burgerregte-organisasie met hierdie projek die Afrikaanse taal, kultuur en filmbedryf bevorder en terselfdertyd vir gemeenskappe die geleentheid bied om fondse vir hul skole in te samel.

Die film sal dus in die ope lug vertoon word op skoolrugbyvelde. Dit beloof om ʼn gevoel van samesyn te skep met pretaktiwiteite voor die fliekvertonings, wat weggeegeskenke en raakrugby insluit. Fliekgangers sal ook met van die akteurs en ander bekendes by dié geleentheid kan skouer skuur.

“Ons wil juis met hierdie toer die film na dorpe toe neem waar daar nie fliekteaters is nie en kykers die geleentheid kry om die film op ʼn unieke “inry”-wyse te ervaar,” meen Pretorius.

Modder en Bloed speel af tydens die Anglo-Boereoorlog in 1901 en deel volgens Pretorius ʼn ander perspektief van die Afrikaner-geskiedenis. Dit vertel die verhaal van ’n heldhaftige groep Boerekrygsgevangenes wat op St. Helena-eiland in die Atlantiese Oseaan aangehou word.

Volgens Pretorius wil AfriForum hê dat kykers, veral jong mense by die vertoning moet wegstap met ʼn gevoel van trots en kennis oor hul verlede.

“Ons dink dit is belangrik dat jong mense trots moet begin voel oor hul geskiedenis, aangesien hulle dit nie meer op skool leer nie en waar dit wel gedoen word, dit soms ’n verdraaiing van werklike gebeure is. Ons kan nie die toekoms verander as ons nie eers ons eie herkoms en geskiedenis ken nie.”

Om kaartjies te bespreek volg die skakel: https://itickets.co.za/events/363657

Die promosietoer vind tussen Julie en Desember plaas.

Vertonings vind plaas in Gauteng op 27 en 30 Julie, asook op 1, 4 en 5 Augustus. Hou Itickets dop vir meer inligting rakende vertonings in Noordwes, Noord-Kaap, Wes-Kaap, Vrystaat, Mpumalanga en Limpopo.

Soortgelyke plasings