|

AfriForum wil ANC se “haatspraak”-wetsontwerp stuit

Die burgerregte-waghond het vandag aangekondig dat hy beswaar gaan maak teen die ANC se voorgestelde Wetsontwerp oor die Voorkoming en Bestryding van Haatmisdaad en Haatspraak (die Wetsontwerp) en dat ’n voorlegging in die verband by die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling ingedien sal word.

Die publiek het nog net tot vandag tyd om voorstelle rondom die omstrede voorgestelde wetsontwerp te maak.

AfriForum het ’n regsopinie van ’n span kundiges bekom wat van mening is dat die wetsontwerp nie net vryheid van spraak in ’n ongrondwetlike mate skend nie, maar ook destruktief vir demokrasie, samehorigheid, die vrye vloei van idees en mediavryheid sal wees.

AfriForum se regsmening is opgestel deur adv. Mark Oppenheimer, mediaregskenner, in samewerking met adv. Martin Brassey (SC) en adv. Gretha Engelbrecht.

Volgens die kundiges sal die Wetsontwerp boonop ’n negatiewe uitwerking op die stryd teen rassisme hê en tot arbitrêre vervolging lei.

AfriForum het ook vandag ’n veldtog van stapel gestuur wat aan die publiek die geleentheid gee om hul stemme by dié wat teen die Wetsontwerp gekant is, te voeg.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê haatspraak en rassisme is ’n probleem in Suid-Afrika. “Met hierdie wetsontwerp poog die ANC om mikrobestuur op die samelewing toe te pas op ’n wyse wat rassisme en haat sal bevorder, eerder as om dit te beveg.”

Oppenheimer meen die oorheersende kwessie rondom die wetsontwerp is die wyse waarop dit gedefinieer word. “Die Grondwet maak dit duidelik watter spraak op haatspraak neerkom – verkondiging van haat op grond van ras, geslag, etnisiteit of geloof – en dit wat neerkom op aanhitsing om skade te berokken. Wat dié wetsontwerp doen, is om verby hierdie spraak uit te brei om bespotting en belediging in te sluit, en dit het drakoniese regtelike strawwe.”

Jeremy Nell, spotprenttekenaar, beter bekend as Jerm, het ook ’n voorlegging gemaak. “Ek sal van beroep moet verander na iets veiliger. Maar op ’n ernstige noot is hierdie ’n belaglike voorstel om vryheid van spraak in die kiem te smoor. ’n Wet soos hierdie ondermyn die beginsels van demokrasie,” het hy gesê.

Die besware wat in AfriForum se voorlegging teen die Wetsontwerp geopper is, sluit in:

  1. Die nodige balans tussen die reg op vryheid van spraak en die potensiële beperking daarvan word nie getref nie.
  2. Die drempel wat vir die definiëring van haatspraak gestel word, is so laag dat spraak wat deur die Grondwet beskerm word ook gekriminaliseer word.
  3. Die gevolg hiervan is dat robuuste debatte en gesprekvoering oor sensitiewe politieke kwessies ontmoedig sal word. Komediante en spotprenttekenaars sal byvoorbeeld in voortdurende vrees vir strafregtelike vervolging leef.
  4. Billike en akkurate verslagdoening van haatspraak word gekriminaliseer. Selfs boekwinkels wat voorraad aanhou waarin daadwerklike haatspraak behandel word (byvoorbeeld boeke oor Nazi-Duitsland of die Rwandese volksmoord) kan vervolg word.
  5. Gevangenisstraf word opgelê in gevalle waar ander optrede meer gepas sou wees. Eerste oortreders kan vir drie jaar gevangenisstraf gevonnis word en tweede oortreders vir tien jaar.
  6. Die Wetsontwerp maak dit vir die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) moontlik om selektiewe en arbitrêre vervolgings toe te pas, wat in die praktyk daartoe kan lei dat “haatspraak” wat kritiek op die regering of die regerende party bevat tot vervolging sal lei, terwyl die regering of die regerende party se eie “haatspraak” geïgnoreer word.

Om hierdie redes het AfriForum vandag ’n landwye veldtog van stapel gestuur om die Wetsontwerp te beveg. Die volgende stappe sal deel van die veldtog uitmaak:

  1. Voortgesette voorleggings sal op die Wetsontwerp gelewer word, wat die moontlikheid van ’n voorlegging in die parlement insluit.
  2. AfriForum se regspan berei voor om die Wet in die hof te beveg, sou dit deur die Nasionale Vergadering (NV) en die president goedgekeur word.
  3. Die publiek kan die veldtog ondersteun deur die volgende te doen:
  4. ’n Petisie kan op AfriForum se webtuiste onderteken word, waardeur die publiek hulle steun verleen aan AfriForum se veldtog om dié Wetsontwerp te stop. Besoek www.stoprassisme.co.za.
  5. ’n Skenking van R10 kan aan AfriForum se regsfonds gemaak word deur die woord “Rassisme” na 38312 te SMS.

Soortgelyke plasings