|

AfriForum wil een miljoen liter water vir Kroonstad gee

AfriForum het die afgelope naweek kragte met verskeie organisasies saamgesnoer en sowat 500 000 liter water aan die Kroonstad-gemeenskap geskenk. Dít volg nadat dié dorp ʼn groot watertekort ervaar het nadat munisipale reservoirs en damme in die gebied opgedroog het.

Die burgerregte-organisasie beoog ook om vandeesweek nóg 90 000 liter water per dag aan skole in die Kroonstad-gebied te verskaf.
Volgens Charles Castle, regs- en risikokoördineerder by AfriForum, is die swak infrastruktuur, die droogte asook swak munisipale beplanning die hoofredes vir die dorp se waterkrisis.

“Inwoners van Kroonstad is raadop. Dit is werklik kommerwekkend om te sien dat die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit geen pogings aanwend om die infrastruktuur in dié dorp in stand te hou nie – dít terwyl die gemeenskap agteroor buig om verligting in hierdie krisistydperk te bring.”

Munisipale pompe wat water uit die omliggende riviere in die Kroonstad-dam moes pomp, was volgens Castle ook reeds voor die reënseisoen al stukkend.
AfriForum het reeds verlede maand die departement van water en sanitasie (DWS) op terme geplaas met die vereiste dat dié departement sy aksieplan om die waterkrisis in Senekal (waar AfriForum vroeër vanjaar sowat 250 000 liter water verskaf het) en Kroonstad aan te spreek, teen 19 Junie 2016 aan die burgerregte-organisasie bekend moes maak.

Nomvula Mokonyane, minister van die DWS, het egter nie aan AfriForum se eise gehoor gegee nie en gevolglik gaan dié organisasie hom nou moontlik tot die hof wend.

“Omdat AfriForum geen reaksie van Mokonyane gekry het nie, het ons op 20 Julie 2016 ʼn vergadering belê met Ndileka Mohapi, die waarnemende adjunk-direkteur-generaal van die DWS, om oplossings te vind,” sê Castle.

Indien lede van die publiek direk by hierdie inisiatief betrokke wil raak, kontak vir Caroline Sassen, uitvoerende direkteur van WSSA, by 071 612 4171 of SMS “skenk” na 38310 en skenk R10.

Jou bydrae maak ʼn verskil. #ElkeDruppelTel

Soortgelyke plasings