| |

AfriForum wil hof toe oor rassediskriminasie teen toerisme-ondernemings met COVID-19-hulp

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag sowel die Minister as die Departement van Toerisme op terme geplaas nadat dié Departement aangekondig het dat bystand vir klein, mikro- en mediumgrootte-ondernemings (KMMO’s) gegee sal word in lyn met die Departement se beleid van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en ekonomiese transformasie. Toerisme-ondernemings het tot 30 Mei om aansoek te doen om geldelike hulp van die Departement se COVID-19-hulpfonds.

AfriForum is van voorneme om ’n hersieningsaansoek teen die Minister en die Departement te bring sou die Departement nie binne sewe dae afsien van sy voorneme om voort te gaan met hierdie diskriminerende bepalings nie.

Dít volg nadat AfriForum op 25 Maart 2020 in ’n aanmaningsbrief aan Mmamoloko Kubayi-Ngubane, die Minister van Toerisme, daarop aangedring het dat die voorgestelde bepalings gebaseer op ras, ouderdom, gestremdhede en geslag vir verligting vir ondernemings in die toerismebedryf geskrap word.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, behoort dit nie saak te maak wie die eienaars van ’n onderneming is wanneer bepaal word watter ondernemings hulp nodig het nie.

“In hierdie krisistyd behoort almal saam te staan teen ons gemeenskaplike vyand – COVID-19. Dit is tragies en immoreel dat die regering voortgaan om ’n rasgedrewe agenda te bevorder. Daar is ’n groot verskil tussen SEB-maatreëls en ondersteuning tydens ’n krisistydperk.”

AfriForum moedig alle toerisme-ondernemings aan om steeds by www.tourism.gov.za/Pages/COVID19TOURISMRELIEFFUND.aspx om verligting aansoek te doen. SMS ook jou onderneming se naam na 45113 (R1) sodat AfriForum jou onderneming se besonderhede het en ons namens jou hofaksie kan instel as jou onderneming se aansoek op grond van SEB-vereistes afgekeur word. Jy kan ook ’n e-pos met jou onderneming se besonderhede na afriforum@afriforum.co.za stuur.

Soortgelyke plasings