|

Kyk: AfriForum wil lughawens en vliegvelde met projek Windkous help red

AfriForum wil met die hulp van gemeenskappe sekere lughawens en vliegvelde identifiseer wat van algemene verval gered kan word.

Om die doelwit te bereik, sal projek Windkous vroeg volgende jaar van stapel gestuur gaan word.

Met die onluste vroeër vanjaar in KwaZulu-Natal het ’n paar vliegvelde in dié provinsie ’n sleutelrol gespeel om kos en ander noodsaaklike items by gemeenskappe, wat van die buite wêreld afgesny was, uit te kry.

Plaaslike rade gee nie meer aandag aan hierdie vliegvelde nie en dit word later gebruik vir enigiets van behuising tot weivelde.

Volgens Deon Steyn, lugsteunbestuurder by AfriForum, kan ’n goeie vliegveld of lughawe ’n groot bydrae tot ’n plaaslike gemeenskap lewer. Dit kan onder meer gebruik word vir handel- en sakebedrywighede; militêre operasies; ’n landingsplek vir lugambulanse tydens nood; mediese afvoer van pasiënte; ’n basis vir brandbestrydingsvliegtuie; uitwykvliegvelde; noodlandingsplekke asook vir sport- en ontspanningbedrywighede soos valskermspring, kunsvlieg, vliegtuigsaamtrekke en lugvertonings.   

Dit maak vir AfriForum groter sin om bestaande vliegvelde en die infrastruktuur wat daarmee saamgaan, te bewaar eerder as om nuwes op te rig.

Die verval van vliegvelde en aanloopbane het tydens die COVID-19-pandemie vinnig versnel.

Steyn noem dat om ’n nuwe aanloopbaan van ongeveer 1,3 km te bou sowat R30 miljoen sal kos. Dit sluit nie eens ligte op die aanloopbaan, omheining vir die vliegveld en loodse vir vliegtuie in nie. Voorts sê hy alhoewel lughawens en vliegvelde met rasseskrede, soos ander infrastruktuur, agteruitgaan, dit met minimale werk en onkostes opgeknap en onderhou kan word. “Gereelde buurtwagpatrollies kan help om diefstal te beperk. Die gemeenskap kan ook byvoorbeeld help om infrastruktuur in stand te hou. Dit kan so eenvoudig wees soos om die gras om die aanloopbaan te sny of om ’n windkous te vervang indien dit nodig sou word.”

AfriForum het gaan ondersoek instel by verskeie lughawens en vliegvelde om te sien wat die huidige stand van sake is. Steyn noem Vryburg, Harrismith en Nylstroom as voorbeelde waar infrastruktuur nog staan, maar vir uiteenlopende redes onder bedreiging is. By Harrismith is die heining op plekke stuk vir stuk verwyder. Hierdie heining bestaan uit betonblokke wat kwalik sonder baie moeite geskuif kon word. Daar het ook tydens die COVID-19-pandemie informele behuising neffens die aanloopbaan opgeskiet. Informele nedersettings wat al hoe nader aan lughawens en vliegvelde ontwikkel en uitbrei, is trouens besig om ’n algemene verskynsel op verskeie plekke in Suid-Afrika te word.

Informele behuising het tydens die COVID-19-pandemie neffens verskeie aanloopbane opgeskiet.

“Plaaslike rade gee nie meer aandag aan hierdie vliegvelde nie en dit word later gebruik vir enigiets van behuising tot weivelde. So onttrek plaaslike gemeenskappe ook mettertyd hul ondersteuning van vliegvelde en verskuif hulle vliegtuie na ander plekke.

“Van AfriForum se kant af wil ons leiding gee met die soort aktiwiteite en benadering wat gevolg kan word om vliegvelde in stand te hou. Dit is egter belangrik dat die gemeenskap self die inisiatief neem en vliegvelde identifiseer waarmee ons kan help.  Ons wil hoor en sien dat gemeenskappe die selfhelpbeginsel toepas en begin om eienaarskap van vliegvelde te neem en nie net aanvaar dat dit soos ander infrastruktuur agteruitgaan nie.”

“Ons het per slot van rekening deur middel van belastinggeld hierdie infrastruktuur daargestel. Ons beskerm eintlik net ons belegging deur deel te neem aan die beskerming en instandhouding van hierdie bates,” verduidelik Steyn.

Soortgelyke plasings