|

AFRIFORUM WIL OLIMPIESE MEDALJEWENNERS BELOON

Deur Marthinus Koekemoer

AfriForum het vandag ’n veldtog afgeskop om Suid-Afrika se Olimpiese-medaljewenners te vergoed ná dit aan die lig gekom het dat die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (SASKOK) glo nie die geld het om hierdie atlete te beloon nie.

Barry Hendricks, president van SASKOK, het luidens mediaberigte gesê daar gaan belanghebbendes gesoek moet word om Tatjana Schoenmaker en Bianca Buitendag te beloon nadat Schoenmaker twee medaljes en Buitendag een by die Olimpiese Spele gewen het.

“Ons het hierdie veldtog geloods om fondse in te samel om ons atlete te ondersteun en te vergoed vir die harde werk wat hulle gedoen het,” sê Ronald Peters, bestuurder by AfriForum Sport. “Hierdie atlete skep hoop en trots vir jongmense en toekomstige atlete met hul prestasies op die grootste wêreldverhoog.”

By die Olimpiese Spele in 2016 het Suid-Afrika se gouemedaljewenners elk R400 000 van SASKOK ontvang, silwermedaljewenners elk R200 000 en bronsmedaljewenners R80 000. Daar was ook belonings vir hierdie atlete se afrigters. Belonings van ander lande se Olimpiese-medaljewenners in 2021 beloop in sommige gevalle honderde duisende dollars. Daar word in die media berig dat Hidilyn Diaz van die Filippyne meer as $600 000 ontvang het asook twee huise en gratis vlugte vir die res van haar lewe nadat sy dié land se eerste goue medalje by die Olimpiese Spele gewen het. Dié ruim vergoeding kom van die land se regering sowel as sakelui. Amerikaanse atlete kry nie so baie nie en minder as $40 000 vir ’n goue medalje. Maar hulle kry wel toegang tot top mediese geriewe en finansiële hulp vir universiteitstudies.

“Dit is skandelik dat die owerheid en SASKOK ons atlete in die steek laat. Die feit dat Adam Tas en talle ander AfriForum-lede ons versoek het om in te gryp is weer eens tekenend van ’n kragtige selfdoengemeenskap wat intree waar die owerheid weer misluk,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Tas het die naweek op Twitter reeds gesê hy sal só ’n fonds ondersteun. Die oud-Springbok Schalk Burger het op Twitter sy plaas vir ’n konsert om fondse in te samel aangebied en Kwagga Boucher, uitvoerende hoof van The Wine Farmer, het aangedui dat hulle graag wyn aan die medaljewenners wil skenk. Roland Schoeman, voormalige Olimpiese-medaljewenner, het op Twitter teen Nathi Mthethwa, die Minister van Sport, Kuns en Kultuur, uitgevaar en gesê hy moet bedank.

Mthethwa het verlede week gesê sy department het genoeg gedoen om die land se atlete finansieel by die Olimpiese Spele in Tokio, Japan, te ondersteun.

Bianca Buitendag het ‘n silwermedalje vir branderplankry by die Olimpiese Spele gewen. Foto: Team South Africa/Twitter

Peters meen egter Suid-Afrikaanse sport word in die algemeen baie swak bestuur met atlete wat dikwels hul eie onkoste moet dek om deel te neem en glad nie vir prestasies vergoed word nie.

“Met die uitsondering van rugby wat in die algemeen goed bestuur word, sukkel omtrent elke ander sportsoort in Suid-Afrika met behoorlike befondsing. As atlete nie ’n bestaan kan maak met hul sport nie ontstaan die vraag wat jong mense van die situasie moet dink? Hoekom sal hulle gemotiveerd bly om hard te werk om prestasies na te jaag?” sê Peters.

Hy sê voorts Mthethwa se uitlatings dat die land se demografie nie voldoende verteenwoordig word nie val ook plat as ’n mens in ag neem hoeveel talentvolle atlete sou kon deelneem as hulle finansiële ondersteuning gekry het.

Peters meen spanne moenie volgens ’n spesifieke demografie saamgestel word nie, maar dat die beskikbaarstelling van gelyke geleenthede, geriewe en afrigting vir jong sportlui die fokus moet wees. “Wanbesteding is nie net ’n SASKOK-probleem nie, talle sportmanne en -vroue ly onder die onverantwoordelikheid van die komitees en sportfederasies wat veronderstel is om hulle belange op die hart te dra.”

AfriForum gaan die eerste R50 000 tot die medaljefonds bydra en het ‘n beroep op sy lede, die publiek, ander organisasies en maatskappye gedoen om dit ook te ondersteun en by te dra.

Bydraes kan tot 15 September gemaak word om sodoende ook Suid-Afrika se Paralimpiese Spele medaljewenners in te sluit indien hulle ook vir belonings oor die hoof gesien sou word. Die Paralimpiese Spele word van 27 Augustus tot 5 September gehou.

Stuur ‘n e-pos aan sport@afriforum.co.za om meer uit te vind of maak ’n inbetaling in AfriForum se bankrekening.

Banknaam: First National Bank

Rekeninghouer: AfriForum NPC

Takkode: 261550

Rekeningnommer: 62349898398

Vewysing: MEDALJE

Soortgelyke plasings