AfriForum win regsopinie in oor voorgestelde wysigings aan skoolregulasies in Gauteng


Die burgerregte waghond AfriForum neem met kommer kennis van die voorgestelde wysiging aan skoolregulasies wat op 30 Julie 2018 deur Panyaza Lesufi, LUR vir Gautengse onderwys, in die staatskoerant gepubliseer is. Daarvolgens hoef leerders en hul ouers nie hulself te steur aan skole se missie en visie, of selfs die skool se gedragskode wanneer kinders by skole ingeskryf word nie.

“Ouerbeheerliggame by openbare skole se inspraak word al hoe meer deur die departement van onderwys ingeperk. Tóg is betrokke gemeenskappe noodsaaklik vir skole om suksesvol te wees. Die Gautengse onderwysdepartement is dus besig om die basis van skole se sukses willens en wetens vir politieke redes, soos die aanslag op Afrikaanse onderwys, te erodeer,”  meen Carien Bloem, koördineerder vir onderwys by AfriForum.

Die Hoërskool Overvaal-saak het dit juis duidelik gemaak hoe belangrik ’n aktiewe skoolbestuur en -beheerliggaam is.

“AfriForum win daarom ’n regsopinie oor die grondwetlikheid van dié regulasies in.”

Die publiek kan tot 30 Augustus 2018 kommentaar op die voorgestelde wysigings aan die regulasies lewer of veranderinge daaraan voorstel. AfriForum Onderwys sal lede van die organisasie en die publiek betrek om insette in hierdie verband te lewer. Meer inligting hieroor sal deurlopend gekommunikeer word.

Soortgelyke plasings