|

AfriForum woeker hele Maartmaand in Rustenburg

Die burgerregte-organisasie AfriForum se gemeenskapsake-afdeling het die hele Maartmaand in Rustenburg hand aan die ploeg geslaan en saam met taklede en vrywilligers projekte aangepak om die dorp te verbeter én in die proses hoop te skep.

Dit is deel van die organisasie se #AnkerdorpPadskou-veldtog wat ook in die volgende maande na ander dorpe uitgebrei word. In Mei sal AfriForum in George skouer aan die wiel sit.

Die padskou in Rustenburg het afgeskop met die skoonmaak van die openbare swembad, asook Marais-, Kruger-, Boshoff- en Kerkstraat.

AfriForum het ook ’n werwingstalletjie by die ATKV-oord in Buffelspoort beman.

Sampie Steinberg, assistentkoördineerder vir Marico, meen die padskou was ’n reusesukses en daar is daarin geslaag om die dorp skoner te maak en die gemeenskap op te hef.

Van die projekte wat aangepak is, sluit die sny van gras by die spruit in. Dit is gedoen omdat die lang gras maklike skuiling vir boosdoeners en misdadigers gebied het.

Volgens Steinberg het die tak ook vir die inwoners van die munisipale woonstelle in Kerkstraat ’n partytjie gehou en herstelwerk aan die woonstelle gedoen. “Dit was vir ons ’n groot skok om te hoor dat party van die bejaardes reeds vyf jaar sonder warm water is.

“Ons het besluit om hierdie probleem op te los en gehelp waar ons kan. Die partytjie vir die bejaardes was ’n fees en hulle het die orkes wat gereël is, terdeë geniet asook die kos en drinkgoed wat voorsien is. Daar is ook besluit om borge te kry om die bejaardes verder te help.”

Vrywilligers het ook by die W.A. van Zyl-saal, reg langs die munisipale woonstelle in Kremetartlaan, opgedaag waar die tak ’n klein partytjie vir dié bejaarde inwoners gehou het. Die woonstelle se geisers is ook herstel om te verseker dat die bejaardes warm water het.

“Die bejaardes het die gebaar oneindig baie waardeer en dit was verblydend om al die glimlagte te sien. Wat die waterprobleem betref, het ons reeds begin beplan om ’n volhoubare projek op die been te bring,” het Steinberg gesê.

Die haglike toestand van die dorp se paaie het ook aandag gekry met slaggatprojekte wat afgeskop het. Altesaam 500 sakkies teer — ongeveer 12,5 ton — is aangekoop en gebruik om slaggate te vul. Altesame 106 slaggate, oftewel ’n oppervlakte van 28,6 m2, gevul.

“Ons kon nie meer op die munisipaliteit wag of staatmaak om die paaie vir ons te herstel nie. Ons as die gemeenskap het self ingespring en die paaie herstel waar ons kon,” het Steinberg vertel.

Die slaggate is in samewerking met Mongola Trading Enterprises gevul.

Die burgerregte-organisasie se teenboelieveldtogspan het ook in Maart by Laerskool Rustenburg en Laerskool Vastrap in Rustenburg besoek afgelê as deel van die padskou. Die teenboelieveldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in. AfriForum werk graag met rolspelers saam om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die kennis om afknouery te ontmoedig.

“Dit is vir ons belangrik dat leerders die verskil tussen konflik en afknouery verstaan en ingelig is oor wat hulle moet doen as hulle hulself in ’n afknouvoorval bevind. Elke leerder het ’n Matteus-plakker ontvang wat #StaanOpTeenBoelies en #SkepSaamHoop aandui. Ons wil hê dat ons land se skole vry, veilig en voorspoedig moet wees,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.

René Schoombee, bemarker by Laerskool Rustenburg, sê by hul skool word elke kind gekoester en boelies nie geduld nie. “Ons afknoubewusmaking strek van ’n teenboelieposbus waar leerders hul harte kan uitstort tot teenboeliekrete, -slagspreuke en -bewusmakingsveldtogte, waarvan die AfriForum-besoek beslis een van die hoogtepunte was.”

Vir meer inligting oor die padskou of om betrokke te raak, besoek www.ankerdorp.co.za

Soortgelyke plasings