|

AfriForum woeker in Gauteng tydens Maand van Selfstandigheid

Deur Lize Burger

AfriForum het vandag tydens sy Maand van Selfstandigheid-veldtog in en om Gauteng gewoeker deur verwyderde stoptekens te vervang en voetoorgange en spoedhobbels by laerskole in Lynnwood, Menlopark, Constantia Park en Garsfontein oor te verf.

Verdere werk aan munisipale paaie is ook in dele van Pretoria-Oos, Heidelberg, Kempton Park en Centurion voltooi.

Volgens Hein Gonzales, AfriForum se projekwoordvoerder, het AfriForum besluit om die Maand van Selfstandigheid-veldtog aan te pak nadat hul in September vanjaar ʼn veiligheidsoudit op munisipale paaie gedoen het. Volgens die oudit voldoen sommige paaie nie aan die minimumvereistes wat in toepaslike wetgewing en regulasies uiteengesit word nie.

Volgens Chris Hoöman, eienaar van die private kontrakteurs Jetpatcher, is hierdie inisiatief belangrik en doeltreffend omdat AfriForum ʼn voorbeeld stel en gemeenskappe aanmoedig om hul regte in hul eie hande te neem.

Volgens Hoöman het dié private kontrakteurs, wat spesialiseer in padinstandhoudingswerk, besluit om deel te wees van die burgerregte-organisasie se inisiatief omdat hul óók in die belangrikheid van selfdoen glo.

Hy sê voorts dat die verkeer om skole en in woongebiede beter reguleer kan word as voetoorgange en spoedhobbels duideliker gemerk is.

“Duidelike padtekens en gemerkte voetoorgange is veral rondom skole baie belangrik om veiligheid van ons kinders te verseker,” meen hy.

“Mense wat nie eens van dié inisiatief bewus was nie, neem nou kennis van die werk wat in hul omgewing gedoen word. Daarom is Jetpatcher trots om saam met AfriForum hierdie projek aan te pak,” het Hoöman gesê.

Die Maand van Selfstandigheid-veldtog gaan tydens Oktober nasionaal na verskeie ander dorpe uitgebrei word.

Wys jou steun vir dié aksie en SMS “Selfdoen” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings