|

AFRIFORUM WOON OPENBARE VERHOOR BY OOR WETSONTWERP OOR ONTEIENING SONDER VERGOEDING

Verteenwoordigers van die burgerregteorganisasie AfriForum het die openbare verhoor oor die wetsontwerp oor onteiening in Nelspruit op 16 April bygewoon. Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, het by dié verhoor gepraat. AfriForum het beklemtoon dat die ANC se najaging van onteiening sonder vergoeding niks meer as ’n politieke spel is nie.

’n Verskeidenheid voorbeelde is voorgehou van korrupsie wat pogings tot grondhervorming in die wiele ry, veral die feit dat slegs 6,3% van grond wat die staat aangekoop het tot op hede in privaat eienaarskap oorgedra is. Voorts het meer as 90% van mense wat grondeise ingedien het, aangedui dat hulle nie daarin belang stel om landbougrond te besit nie en eerder geld as vergoeding verkies. Die regering het sélf ook toegegee dat meer as 90% van plase wat aan swart Suid-Afrikaners toegeken is, gefaal het en gewoonlik baie gou tot bestaansboerderye of plakkerskampe verword het.

AfriForum is van mening dat die “honger vir grond” grotendeels ’n mite is, veral wat betref die aanvraag na landelike grond om boere te word en omdat ongeveer 82% van grondeise vir stedelike eerder as landelike grond is.

Die Wetsontwerp is in Oktober 2020 gepubliseer en aan die parlement en die betrokke komitees voorgelê om die grondwetlikheid en bepalings daarvan te bespreek. Die publiek kon skriftelike kommentaar op die Wetsontwerp lewer tot en met 28 Februarie 2021. AfriForum het dit ook ingedien. AfriForum is ook van voorneme om die ander openbare verhore wat tot einde Junie gehou word, by te woon.

“Die regering se magspel oor grond kan nie sommerso aanvaar word tot nadeel van almal in die land nie. Eiendomsreg is bevorderlik vir die skep van ’n voorspoedige samelewing en daarom sal AfriForum aanhou om hierdie vernietigende beleid teen te staan,” sluit Bekker af.

Soortgelyke plasings