|

AfriForum woon openbare verhoor oor onteiening sonder vergoeding by

Die burgerregteorganisasie AfriForum het een van die openbare verhore oor die wysigings aan artikel 25 van die Grondwet vandag in Soshanguve bygewoon.

Ernst Roets, AfriForum se hoof van beleid en aksie, het ’n by dié verhoor gepraat. Hy het beklemtoon dat die ANC se najaging van onteiening sonder vergoeding niks meer as ’n politieke set is nie. Hy het ook ’n verskeidenheid voorbeelde voorgehou van korrupsie wat pogings tot grondhervorming in die wiele ry, veral die feit dat slegs 6,3% van grond wat die staat aangekoop het tot op hede in privaat eienaarskap oorgedra is.

Voorts het meer as 90% van mense wat grondeise ingedien het, aangedui hulle stel nie daarin belang om landbougrond te besit nie en verkies eerder geld as vergoeding. Die Suid-Afrikaanse regering het ook toegegee dat meer as 90% van die plase wat aan swart Suid-Afrikaners toegeken is, gefaal het en gewoonlik baie gou tot bestaansboerderye of plakkerskampe verword het.

Roets het aangevoer die “honger vir grond” is grotendeels ’n mite, veral wat betref die aanvraag na landelike grond om boere te word. Hy het genoem dat 82% van grondeise vir stedelike eerder as landelike grond is. Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge het Suid-Afrikaners in ’n opname gevra wat hulle dink gedoen moet word om hul lewens te verbeter. Slegs 8% van respondente het aangedui hulle glo grondhervorming sal mense se lewe verbeter. Die opname het ook bevind ’n skamele 2% van mense in Suid-Afrika glo versnelde grondhervorming moet ’n topprioriteit vir die Suid-Afrikaanse regering wees. Die ANC se najaging van onteiening sonder vergoeding is daarom ontmasker as niks meer as ’n set om meer mag- en plunderingsgeleenthede te ontsluit nie.

“Daar was altyd sowel internasionaal as plaaslik na die ANC-regering as ’n party van vrede, versoening en vryheid verwys, maar dié reputasie is verlore, veral internasionaal. Hulle word nou geken vir hul magsbehepte gedrag, korrupsie en toegewydheid aan diskriminerende beleide. Onteiening sonder vergoeding is maar net nóg ’n tree vorentoe vir die ANC in die najaging van die Nasionale Demokratiese Revolusie – om selfs meer mag in die staat te sentreer eerder as om die armes te help,” het Roets afgesluit.

Volgens dr. Eugene Brink, strategiese adviseur vir gemeenskapsake by AfriForum, is dit onteenseglik waar dat lande wat swak eiendomsregte het ook arm lande is. “Daarenteen is lande met sterk eiendomsregte ook die ryk lande. Ongelukkig is die hartseer staat waarin Afrika sigself bevind bewys hiervan,” het Brink by die verhoor gesê.

Soortgelyke plasings