|

AfriForum wys beste en swakste munisipaliteite aan

Die burgerregteorganisasie AfriForum se Sentrum vir Plaaslike Regering se lys met die beste en swakste munisipaliteite in Suid-Afrika wys watter reusegaping daar tussen die verskillende provinsies se munisipaliteite bestaan.

Dr. Eugene Brink, bestuurder van die Sentrum vir Plaaslike Regering, sê die vyf beste munisipaliteite is almal in die Wes-Kaap geleë en sluit in Witzenberg, Swartland, Mosselbaai, Drakenstein en Swellendam. “Hulle is nie volmaak nie, maar die data jok nie oor hoe ver hulle voor is wat die belangrikste elemente in munisipale bestuur betref nie. Geen munisipaliteit elders in die land kom eers naby daaraan om hulle te troef nie, maar daar was nog munisipaliteite in die Wes-Kaap wat kon meeding om hierdie prestigeryke lys te haal.

“Hoewel hulle steeds werkloosheid en armoede beleef, is dit soveel laer as in ander munisipaliteite. Hul dienslewering en bestuur is ook onvergelykbaar met nie net die heel swakste munisipaliteite s’n nie, maar ook met die gemiddelde munisipaliteit in die land.”

Die vyf swakste munisipaliteite is Ingquza Hill en Ntabankulu in die Oos-Kaap, Tswaing en Ratlou in Noordwes en uMhlabuyalingana in KwaZulu-Natal. “Hierdie munisipaliteite beleef tipies hoë werkloosheid, treurige dienslewering en word vanuit ’n finansiële oogpunt swak tot baie swak bestuur.”

“Baie min huishoudings in hierdie munisipaliteite het kraanwater in hul huise, ontvang weeklikse vullisverwydering of beskik oor riolering. Swak dienste en infrastruktuur lei ook daartoe dat ondernemings wegtrek of dit nie eens oorweeg om daar te belê nie, wat weer werkloosheid vererger. Hulle het herhaaldelik swak oudits by die ouditeur-generaal (OG) ontvang en steur hulle bloot nie daaraan nie.”

“Wat selfs meer skokkend is, is hoeveel munisipaliteite ook hierdie berugte lys kon haal omdat baie soortgelyke eienskappe toon. Inwoners het ’n kans op 1 November om hierdie toedrag van sake te help regstel, maar om bloot te stem gaan nie hierdie diepgewortelde probleme oplos nie. Gemeenskappe sal deurlopend hul lot moet verander deur self in te spring en ’n verskil te maak,” sê Brink.

Klik hier om die volledige verslag te lees.

Soortgelyke plasings