|

AfriForum wys wenners aan in sy Superbru-wedstryd

Dave van Staden van Pretoria is R10 000 ryker nadat hy vandag as die gelukkige wenner van AfriForum se Superbru-wedstryd aangewys is.

Die burgerregte-organisasie het in September/Oktober met Ctrack, ’n voertuigopsporingsmaatskappy, kragte saamgesnoer om die Superbru-wedstryd aan te bied.

Christo Brits, projekkoördineerder, het gesê AfriForum is verheug oor die wye belangstelling wat daar was. “Meer as  8 000 mense het aan die Superbru-poel deelgeneem.”

Die Superbru-poel het behels dat ’n groep mense vir elke Wêreldbeker-wedstryd die wenspan met punteverskil moes aanwys. Op dié manier kon hulle punte verdien om vir weeklikse pryse te kwalifiseer.

Stef Potgieter, organiseerder van die wedstryd, het gesê AfriForum sal weer volgende jaar by die Superrugby-kampioenskappe betrokke wees.

“AfriForum gaan van krag tot krag en ons hoop nog meer mense sal aan die opwindende projek deelneem.”

Die eerste prys is R10 000 van die hoofborg Ctrack. Die tweede en derde pryse is  wegbreeknaweke na Kokoriba en Aan de Vliet. Kokoriba is 38 km vanaf Brits en 120 km vanaf Pretoria. Dit is ’n gewilde wildreservaat en gesinsvakansieoord. Aan de Vliet is 8 km vanaf Hazyview in Mpumalanga en 15 km vanaf die Krugerwildtuin. Daar is talle bekende toeriste-aantreklikhede binne 60 km vanaf Aan de Vliet.

 

Soortgelyke plasings