|

AfriForum: Zuma moet onmiddellik afgedank en vervolg word

 

“Zuma is oneerlik, sonder ʼn greintjie integriteit en ʼn enorme verleentheid vir die land.”

Só meen Kallie Kriel, uitvoerende hoof van die burgerregte-organisasie AfriForum, nadat die Hooggeregshof in Pretoria vanoggend beslis het dat die openbare beskermer (OB) se omstrede staatskapingsverslag vandag voor 17:00 uitgereik moet word.

Die burgerregte-organisasie is van mening dat dié ingrypende gebeure vandag dit finaal noodsaak dat pres. Jacob Zuma afgedank en strafregtelik aangekla en vervolg word.

Volgens Kriel is die hofbevel die finale bevestiging dat Suid-Afrika Zuma nie langer as staatshoof kan duld nie.

“Hy het die howe vandeesweek probeer misbruik om te voorkom dat die omstrede verslag vrygestel word. Wat ons nou sien gebeur, is aanduidend dat die hele samelewing in opstand teen sy vergrype kom. Dit is tyd dat finaal van hom ontslae geraak word,” het Kriel gesê.

Dié hofbevel volg nadat pres. Jacob Zuma Woensdagoggend sy aansoek om ’n interdik teen die uitreiking van die verslag laat vaar het.

Dit volg nadat die DA, EFF, Cope, UDM en Vytjie Mentor, voormalige ANC-LP, gister ’n slag in die hof geslaan het toe hulle die groen lig gegee is om Zuma se hofaansoek teen die uitreiking van dié verslag teen te staan.

Te midde van die hofsaak het chaos ook vandag in die strate van die Pretoriase middestad uitgebars nadat die DA en EFF vandag buite die hof betoog het.

Die Save South Africa-beweging het ook vroegoggend in die St. Alban’s Katedraal bymekaargekom om die toekoms van die land te bespreek. Dié groep eis ook die president se bedanking.

Dispatch Live het berig dat die Tshwane Metropolisie die stad vanmiddag as “disfunksioneel” verklaar het nadat talle winkels deur EFF-betogers aan die brand gesteek en beroof is. Asblikke en ʼn vragmotor vol sand is omgekeer en brandblussers is op strate uitgespuit. ʼn Vulstasie in Sunnyside se winkel is ook geplunder.

Luidens mediaberigte het EFF-leier, Julius Malema, die skare opgesweep en aangemoedig om grond te beset. Hy het ook gesê dat hy geen oop winkels wil sien nie.

Die DA se ondersteuners het omstreeks 11:00 die stad verlaat.

Die OB se kantoor sal nie ‘n mediakonferensie hou om die verslag bekend te stel nie, maar dit per e-pos aan die media stuur en op hulle webtuiste plaas.

Die EFF is pas met rubberkoeëls deur die polisie uiteen gejaag.

Soortgelyke plasings