|

AfriForum se Roodepoort-tak aktief betrokke om gemeenskap te beveilig

Die AfriForum-buurtwag in Roodepoort het tydens Julie aan verskeie veiligheidsaksies en klopjagte deelgeneem.

Die buurtwag het op 19 Julie 2019 bystand aan die SAPD en ICE-gemeenskapspolisiëring gebied tydens ’n gebiedsafbakeningsoperasie in Florida, Hamberg en Maraisburg.

“Die tak en buurtwag is trots om saam met die SAPD en die onderskeie polisiëringsforums te werk om die gemeenskap te beveilig. Die beste wapen tot veiligheid is samehorigheid en ondersteuning tussen verskillende veiligheidsentiteite,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Wes-Rand.

Dié AfriForum-tak se maandelikse massa- en misdaadvoorkomingspatrollie is op 26 Julie 2019 in samewerking met die volgende rolspelers gehou: ER24, Honeydew GPF, Sophiatown GPF, Albertsville GPF, Fairlands GPF, FNQB GPF, BCI Security, APCAN Security, National Security, Tau Security, SRT Security, EC Security, Scpsl Security, CCJ Security, Delta Tactical, Emergency Control SA en ICE-gemeenskapspolisiëring.

Altesaam 113 lede het aan hierdie massapatrollie deelgeneem en die komende maande se patrollies beloof om selfs nog groter te wees.

Ungerer voeg by dat misdaadvoorkomingspatrollies soos dié slegs suksesvol kan wees as die hele gemeenskap hulle kant bring. “Dit is ’n voorreg om te kan sê dat dit wel die geval in Roodepoort is.”

Verskeie probleemgebiede in die gemeenskap is tydens die patrollie gepatrolleer en geen ernstige voorvalle is aangemeld nie.

Sluit vandag nog by AfriForum se Roodepoort-tak aan: SMS “Roodepoort” na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings