| | |

#AfriForumStaanSaam vir Skole: AfriForum skenk hulppakkette aan 12 skole in Limpopo

Die AfriForum-takke in Limpopo het 12 skolehulppakkette aan skole in die provinsie versprei as deel van die #AfriForumStaanSaam vir skole-projek wat in samewerking met AfriForum Jeug van stapel gestuur is. Die skolehulppakkette bevat COVID-19-inligtingstukke, patrone vir gesigmaskers, klaskamerplakkate, elektroniese termometers, handreiniger en handreinigerstaanders. Die waarde van een pakket beloop R6 500.

Die pakkette is aan die volgende skole geskenk: Four Seasons Academy & Impaq Centre, Laerskool Koedoeskop, Lord Milner Primary School, Laerskool Warmbad, Laerskool Nylstroom, Laerskool Pietersburg, Laerskool Tzaneen, Akademie Reformia, Wolkberg Akademie, Hoërskool Hans Strijdom, Hoërskool Ben Vorster en Hoërskool Eric Louw.

“Dit is ’n voorreg om skole in hierdie tyd by te staan en om seker te maak dat hulle voorbereid is om die 2020 akademiese jaar voort te sit. Skole het nie vir hierdie ekstra uitgawes begroot nie en daarom is dit vir AfriForum belangrik om skole by te staan,” sê Magdel Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

“AfriForum het baie versoeke van skole ontvang omdat hulle onvoldoende hulp van die Departement van Onderwys ontvang het. Daarom het AfriForum se Limpopo-takke aan die skoleprojek deelgeneem om sodoende te verseker dat leerders veilig terug kan keer skool toe om die 2020 akademiese jaar te hervat.”

AfriForum het reeds meer as 40 000 bottels handreiniger, 8 000 plakkate en 200 termometers aan skole landwyd versprei.

AfriForum se Limpopo-takke wil graag nóg skole ondersteun in die uitdagende tye wat voorlê om te verseker dat hulle op ’n veilige wyse funksioneer. Die takke moedig gemeenskappe daarom aan om by die inisiatief betrokke raak: SMS jou naam na 45340 (R1) en word deel van die oplossing.

Soortgelyke plasings