|

Afrikaans is elke dag in ’n stryd gewikkel

’n Afvaardiging van AfriForum het onlangs die twaalfde sitting van die VN se Forum vir Minderheidsaangeleenthede in Genève, Switserland bygewoon.

Die tema van vanjaar se byeenkoms was: “Onderwys, taal en die menseregte van minderhede”.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, het haar kommer by die byeenkoms uitgespreek oor die feit dat die Grondwet se sogenaamde beskerming van minderheidstale in Suid-Afrika, weens ’n gebrek aan politieke wil, nie geskied nie.

Bailey se woorde oor die ongeërgdheid van die Suid-Afrikaanse regering en amptenare wanneer dit by die beskerming van taalregte in die algemeen en minderheidstale in die besonder kom, was skaars koud toe ’n ongeïdentifiseerde verteenwoordiger van die regering met ’n aanval op die voorlegging gereageer het. Hy het aangevoer die Suid-Afrikaanse Grondwet is een van die bestes ter wêreld en wat Afrikaans betref is dit ’n minderheidstaal wat jare lank op leerlinge afgedwing is en dat die regering sedert 1994 die taak het om regstelling te probeer bewerkstellig.

Die growwe misleiding oor taalkwessies en spesifiek Afrikaans was die afgelope tyd nie net beperk tot internasionale forums nie.

Plaaslik het prof. Jonathan Jansen, voormalige rektor van die Universiteit van die Vrystaat, wat knus meegehelp het om dié instelling totaal te verengels, ook vir ’n opskudding gesorg toe hy ’n vrou in ’n boekwinkel in Stellenbosch afgejak het toe sy hom in Afrikaans bedien het.

Jansen was klaarblyklik kwaad omdat hy haar eerste in Engels aangespreek het en sy dit durf waag het om hom in Afrikaans te antwoord. Hy het ’n onskuldige vriendelike gebaar totaal uit verband geruk! Praat nou van taal-onverdraagsaamheid.

Maar Afrikaners sien al lankal deur Jansen en hooggeplaastes soos hy se agendas en arrogansie. Hy het hom dan in 2016 reeds sterk uitgespreek ten gunste van die verengelsing van al die universiteite.

Kort voor Jansen se tirade het Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, die soveelste belaglike uitspraak vir die jaar gemaak toe hy luidkeels laat hoor het dat daar nie plek vir enkelmedium Afrikaanse universiteite is nie en dat só iets eintlik ’n “skandvlek” is.

Lesufi beskuldig diegene wat moedertaalonderrig en Afrikaans as inheemse taal binne die raamwerk van die Grondwet wil beskerm en uitbou van ’n anti-demokratiese en anti-transformasie ingesteldheid. In werklikheid is Lesufi so uit sy diepte omdat hy en sy departement nie in staat is om aan die onderwysbehoeftes in die provinsie te voldoen nie. Dit is mos altyd makliker om instellings en skole wat goed funksioneer te teiken en te probeer aftrek na die vlak van die wat nie funksioneer nie.

AfriForum en die Solidariteit Beweging neem kennis van individue soos Lesufi, Jansen en ander regeringslui se aanslag en doelbewuste pogings om Afrikaans te ondermyn. Die organisasies bly daartoe verbind om minderhede se regte op te eis en wend hul selfs tot die howe om dit af te dwing en taalboelies tot verantwoording te roep. Die ander alternatief is selfdoen. En dit is presies wat gedoen word met die ontwikkeling van Afrikaanse opleidingsinstansies soos Akademia en Sol-Tech. Dié instellings gaan van krag tot krag en in 2020 sal dit voortgedy. Ouers hoef dus nie moedeloos te raak nie. Ons bou aan instellings waar Afrikaners in die toekoms steeds gehalte-onderrig sal kry.

Soortgelyke plasings