|

Afrikaans Vriendelik 340 geregistreerde ondernemings sterk

AfriForum se Afrikaans-Vriendelik-inisiatief wat ten doel het om Afrikaans in die sakewêreld te bevorder deur erkenning en gratis bemarking aan Afrikaanse ondernemings en diensverskaffers te gee, is goed op dreef met 340 geregistreerde ondernemings.

Dié ondernemings strek van klein koeksisterbakhuise tot gevestigde regsfirmas.

Volgens Sanderien van der Walt, koördineerder van die Afrikaans-Vriendelik, is dié webwerf die ideale bemarkingsplatform vir enige onderneming omdat dit soos ʼn gemeenskap funksioneer.

“Enige lid van die publiek kan toegang tot die databasis verkry wanneer hulle na Afrikaanse dienste of produkte op soek is, of ondernemings wat Afrikaans bevorder vir insluiting wil nomineer, ongeag die grootte van die onderneming.”

Sy sê voorts die webtuiste is nie net vir 100% Afrikaanse ondernemings nie, maar vir almal wat hul dienste of produkte in Afrikaans aanbied.

“Volgens AfriForum is sowat 30% van die Suid-Afrikaanse sakewêreld Afrikaans, daarom wil ons deur die projek vir daardie 30% ʼn platform skep waar hulle gemaklik kan kommunikeer met kliënte in die taal waarin hulle hulleself die duidelikste kan uitdruk.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het vroeër vanjaar by die bekendstelling van dié unieke webplatform gesê dat die burgerregte-organisasie deur Afrikaans-Vriendelik Afrikaans op ʼn positiewe en proaktiewe manier in die sakewêreld wil bevorder.

“Afrikaans is meer as net ons taal, dit is deel van ons identiteit. Dié platform is dus nie net tot voordeel van verbruikers en ondernemings regoor Suid-Afrika nie, maar tot voordeel van Afrikaans.”

Ondernemings word op Afrikaans-Vriendelik se webplatform volgens provinsies in die volgende kategorieë ingedeel:

  • Bou/konstruksie
  • Gasvryheid
  • Gesondheidsorg
  • Handgemaak/kuns
  • Huis en tuin
  • Internettegnologie
  • Landbou
  • Onderwys/opleiding
  • Regslui
  • Skoonheid/velsorg
  • Vermaak
  • Motor/vervoer
  • Ander

Persone wat ’n onderneming wil nomineer, of ondernemings wat wil registreer, kan vir Sanderien van der Walt kontak by sanderien@afriforum.co.za.

Besoek Afrikaans Vriendelik se webtuiste by www.afrikaansvriendelik.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings