|

Afrikaanse studente by Elsenburg protesteer oor taal

Ongelukkige studente by die Elsenburg-landboukollege buite Stellenbosch het vanmiddag vreedsaam betoog teen die instelling se planne om die onderrigmedium na uitsluitlik Engels te verander.

Die studente is deur AfriForum Jeug en Adam Tas Studentevereniging bygestaan wat die afgelope weke herhaaldelik probeer het om met bestuur te praat oor die kollege se beoogde nuwe taalbeleid. Die taalbeleid is 50/50 met onderrig in Afrikaans en Engels. ’n Klein groepie studente het egter kapsie hierteen gemaak en klasse en onderrig ’n paar keer ontwrig.

AfriForum Jeug het aanmaningsbriewe, ’n griefskrif en ’n mosie van wantroue aan die bestuur van die kollege gestuur wat op niks uitgeloop het nie.

Tydens vandag se optog is ’n memorandum aan bestuur oorhandig waarin studente geëis het dat teen studente opgetree word wat vir die onlangse ontwrigting verantwoordelik was. Hulle moet dissiplinêr verhoor en geskors word.

Die kollege is versoek om stappe te doen om ’n herhaling van die ontwrigting en dreigende aksies te voorkom.

Die studente dring ook aan dat Afrikaans as akademiese vaktaal beskerm en in stand gehou moet word. Die kollege is voorts versoek om in sy ondersoek na die hersiening van die huidige taalbeleid ook die moontlikheid van parallelmedium-onderrig teen 2020 te ondersoek.

AfriForum het ook versoek om betrek te word by onderhandelinge as verteenwoordiger van die Afrikaanse studentegemeenskap se belange.

Henk Maree, nasionale voorsitter van AfriForum, het gesê Afrikaans as onderrigtaal is studente se grondwetlike reg. “Vandag se protes is ’n bewys dat studente nie net sal toekyk hoe van Afrikaans ontslae geraak word nie. Die studente het gewys dat hulle onderrig in Afrikaans wil hê.”

Intussen het mnr. Marius Paulse, hoofdirekteur: gestruktureerde landbou-onderwys en -opleiding in die Wes-Kaap se departement van landbou, ’n brief aan ouers gestuur oor die onlangse gebeure op die kampus.

Hy het hulle die versekering gegee dat klasse en toetse wat nie plaasgevind het nie, ingehaal sal word en dat studente nie op enige wyse benadeel sal word nie.

Hy het gesê die kollege is genoop om sy taalbeleid te hersien omdat dit nie in lyn is met die amptelike taalbeleid van die provinsie wat Afrikaans, Engels en Xhosa as amptelike tale erken nie. “Die ontkenning van die provinsiale taalbeleid deur ’n regeringsinstansie kan nie langer toegelaat word nie,” het hy gesê.

Paulse het voorts daarop gewys dat die kollegeraad ’n taakspan aangestel het om met alle belangegroepe te konsulteer rondom die ontwikkeling van ’n nuwe taalbeleid.  Tot tyd en wyl daar ’n nuwe amptelike taalbeleid is, sal die status quo van 50/50 Afrikaans en Engelse onderrig gehandhaaf word.

Paulse het ook gesê die departement erken dat taal ’n baie sensitiewe kwessie is en tot onnodige spanning kan lei. In die lig hiervan sal daar ook ’n bemiddelaar aangestel word om die proses te fasiliteer.

 

Soortgelyke plasings