|

Afrikaanse studente uitgenooi na De Goede Hoop-besoekersdag

AfriForum se De Goede Hoop-koshuis wat volgende jaar sy deure by die Universiteit van Pretoria (UP) oopmaak, bied op 30 Julie ʼn besoekersdag aan vir alle Afrikaanse studente wat belangstel om dié koshuis hul tuiste tydens hul universiteitsloopbaan te maak.

Die koshuis het ten doel om ʼn inklusiewe tuiste vir enige Afrikaanssprekende Tukkie-student te wees en kan beskryf word as ʼn kultuurinstelling wat verblyf bied vir alle studente wat gemaklik binne die Afrikaanse gemeenskap voel.

Besoekers sal tydens die geleentheid kans kry om ʼn inligtingsessie by te woon, lede van die huiskomitee (HK) te ontmoet en op ’n begeleide toer deur die koshuis te gaan.

Kwessies rondom die koshuis se tradisies, aktiwiteite en verblyfskostes sal tydens dié inligtingsessie bespreek word. Aansoekvorms sal ook op dié dag beskikbaar wees.

Jaco Grobbelaar, AfriForum Jeug se Tuks-kampuskoördineer, verduidelik dat mans en dames elkeen hul eie HK en begroting sal hê en dat die koshuisstigters reeds studente op hul Facebook-blad genooi het om hul CV’s te stuur indien hulle volgende jaar op die HK wil dien.

De Goede Hoop sal deur AfriForum gefinansier en op ’n Christelike grondslag geskoei wees. Dit sal onafhanklik van UP se ander koshuise funksioneer. Hoewel De Goede Hoop ʼn privaatkoshuis is, word daar beoog dat die koshuis steeds aan tradisionele kampusaktiwiteite soos Jool, Sêr en rugby sal kan deelneem.

Die burgerregte-organisasie beoog om sy privaatkoshuiskonsep vir Afrikaanssprekendes na ander kampusse uit te brei indien dit by UP suksesvol is.

Die koshuis is op die hoek van Jorrisen- en Verdoornstrate in Walkerspruit (1,8 km van die UP se Hatfield-kampus) geleë. Dit sal sowat 300 mans en dames kan huisves.

Vir verdere navrae kontak Janli Sonntag by 012-644-3458 of stuur ʼn epos aan admin@degoedehoop.co.za

Soortgelyke plasings