|

Afrikaners moet weer hul plek in SA kry

Afrikaners se oorlewing gaan in die toekoms op vyf pilare berus naamlik ’n helpmekaar-netwerk, die beskerming van hul gemeenskap se regte en vryhede, versnelde bouprogramme, ’n kulturele akkoord met die regering wat hul grondwetlike vryheid bevestig en versnelde brugbouprojekte met ander gemeenskappe.

Só het Flip Buys, bestuurshoof van die Solidariteit Beweging, vandag in Pretoria gesê waar sowat ’n duisend mense die beweging se Toekomsberaad bywoon. Die  tema van die beraad is Op pad na 2030.

Buys het ’n klagstaat teen die ANC-regering bekendgemaak wat gronde is vir die redes waarom Afrikaners toenemend self planne vir hul toekoms moet te maak.

Hy het gesê Suid-Afrika se regering het die vrotste in Afrika geword, terwyl ander soos Ethiopië, Ghana, Botswana, Mauritius en Namibië ekonomieë het wat drasties gegroei het en steeds groei en waar werk vir inwoners geskep word.

Volgens Buys is die probleem met die regering dat hulle nie meer burgers veilig kan hou nie, dat die land stuk-stuk verval, dat mense verarm weens swak bestuur en dat die regsorde aan die verval is. “Die ANC klou aan onwerkbare planne vas en maak ’n bespotting van die demokrasie met leë beloftes aan kiesers. Wit mense het onder die regering tweedeklasburgers geword, terwyl hulle met hul politiek besig is om menslike verhoudinge te vergiftig.”

Volgens Buys is die huidige beeld van die ANC nie net sekere mense se siening nie. “Die regering is ook besig om welwillendheid uit die buiteland te verloor.”

Hy sê die regering se wette en optrede is ook daarvoor verantwoordelik dat die eerste tekens van ʼn belastingopstand sigbaar is. “Mense is siek en sat vir die straffelose plundering van swaarverdiende belastinggeld. Belastingbetalers gaan nie net aanhou betaal as hul geld voortdurend gesteel of wanbestuur word nie. Daarom gaan ons eersdaags projekte aankondig wat liggame vir munisipale dienste tot stand gaan bring om noodsaaklike dienste te lewer en wat gefinansier gaan word deur kortings op eiendomsbelasting vir diegene wat daaraan wil deelneem.

“AfriForum se loodsprojekte hiervoor is suksesvol, en dit moet nou landswyd uitgebrei word waar munisipaliteite verval.”

Buys meen om net kritiek te lewer, gaan egter ook nie help nie. “Al hou ons nie van die regering nie, is ons lief vir die land en wil ons help waar ons kan om dit te laat slaag. Al is ons nie vriende nie, hoef ons nie vyande te wees nie, maar kan ons selfs vennote wees. Ons het min gemeenskaplike sienings, maar het baie gemeenskaplike belange soos veiligheid, ʼn groeiende ekonomie wat werk skep en armoede oplos, en ʼn werkende land wat vir almal ʼn toekoms kan bied.

“Daarom is ons uitdaging om beter persoonlike verhoudinge met gewone swart mense te kweek as wat radikale politici met hulle het, sodat hulle nie teen wit mense opgesteek kan word soos wat Malema en Ace Magushule tydens die xenofobiese geweld probeer doen het nie. Soos die Afro-Amerikaanse ekonoom Thomas Sowell gesê het: ‘There are few talents more richly rewarded with both power and wealth, than the ability to convince poor people that their problems are caused by people of another race.’

“Gelukkig het hulle nie daarmee geslaag nie, want hul kiesers het deur hulle gesien. Tog lê ons toekoms nie in strategiese konfrontasie met hierdie regerende rassiste nie, maar in die strategiese konsentrasie van Afrikaners. Natuurlik moet ons nie huiwer om ons regmatige belange te beskerm nie, maar konfrontasie bly ʼn taktiese metode; nie ʼn strategiese doel nie. Wie nie bereid is om ʼn beskaafde samelewing te verdedig nie, moet homself voorberei op onbeskaafde chaos en verdrukking. Om te staan vir jou regte, beteken nie ʼn opstand nie. Wie vir niks staan nie, sal vir enige iets val.”

Buys het ook verwys na selfbestuursplanne vir Afrikaners wat drieledig is. Die eerste is planne wat nie van die regering moet afhang nie, maar van onsself. Die tweede is “volksveelheid” in plaas van volkseenheid en die derde is planne waaroor mense mag verskil, maar wat hulle nie hoef te verdeel nie.

Soortgelyke plasings